Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zuma terug in tronk ná hy broer se begrafnis bywoon

’n Spreekwoordelike veiligheidsmuur is Donderdag om Nkandla in die noorde van KwaZulu-Natal getrek toe oudpres. Jacob Zuma vir ’n paar uur menslikheidsverlof gegee is om uit die tronk te kom en sy jonger broer, Michael, se begrafnis by te woon.

Die media is nie naby die begrafnis toegelaat nie.

Die konvooi met die stoflike oorskot van oudpres. Zuma se jonger broer, Michael, verlaat Donderdag sy huis vir sy begrafnis. Foto: Reuters

Die 79-jarige oudpresident is vroegoggend reeds na Nkandla geneem. Zuma het twee weke gelede met sy tronkstraf in die Estcourt-gevangenis begin nadat die konstitusionele hof hom tot 15 maande gevonnis het.

Die konvooi voertuie waarmee hy na Nkandla geneem is, was ongemerk. Die oudpresident is na sy woning geneem om gereed te maak vir die begrafnis, wat Donderdagmiddag gehou is.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Donderdagmiddag laat op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê Zuma is terug in die gevangenis.

Die departement van korrektiewe dienste het vroeg Donderdagoggend bekend gemaak dat menslikheidsverlof vir die begrafnis aan Zuma toegestaan is.

Dit was nadat hy die versoek tot die tronkowerhede gerig het.

Michael Zuma is Sondag dood nadat hy lank siek was.

Polisiebeamptes en soldate is in die Nkandla-omgewing ontplooi. Daar was ook verskeie padblokkades.

Netwerk24 het vroeër verneem dat daar groot kommer in regeringskringe was dat Zuma se teenwoordigheid ’n nuwe vonk in die kruitvat sou wees ná verlede week se gewelddadige betogings en plundering nadat hy met sy tronkstraf begin het.

Die DA was baie krities oor die besluit om Zuma toe te laat om die begrafnis by te woon.

James Selfe, DA-woordvoerder oor korrektiewe dienste, het in ’n verklaring gesê weens die huidige onstabiele situasie in KwaZulu-Natal was daar ’n groot moontlikheid dat sy teenwoordigheid opnuut onrus kon veroorsaak.

Selfe wou weet of hy spesiale behandeling geniet.

Dit wil weer voorkom dat daar een stel reëls vir die rykes en dié met bande, en ander vir die res van ons is.

“Die besluit om mnr. Zuma vry te laat is strydig met vorige bepalings van die departement van korrektiewe dienste.

“Ek het al op verskeie geleenthede probeer bemiddel dat gevangenes vrygelaat word om begrafnisse by te woon, maar die departement het dit geweier. Die verskoning was dat daar nie genoeg personeel is om ’n gevangene se veiligheid te verseker nie,” sê Selfe.

“Dit wil weer voorkom dat daar een stel reëls vir die rykes en dié met bande, en ander vir die res van ons is.”

Die Jacob G. Zuma-stigting het gesê die media word nie in die omgewing toegelaat nie omdat die begrafnis ’n private byeenkoms is.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, wat die begrafnisdiens bygewoon het, het aan joernaliste gesê Zuma se gesondheid en gemoedstoestand is goed.

Vroeër het die SAUK berig dat Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, ontken dat Zuma voorkeur-behandeling kry.

Hy het gesê Zuma word soos ’n gewone gevangene behandel en sy aansoek is in ooreenstemming met die regulasies van die departement van korrektiewe dienste oorweeg.

“Die departement het die aansoek ontvang en die nasionale kommissaris het dit soos in die geval van enige gevangene verwerk,” het Lamola gesê.

• Die kommissaris van korrektiewe dienste is Arthur Fraser, wat tydens Zuma se presidentskap hoof van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) was. Volgens ’n hoëvlak-ondersoek deur oudminister Sydney Mufamadi is geld in daardie tyd bestee aan onwettige projekte in ’n geheime parallelle eenheid, wat die SVA binnegedring het en waaroor nie behoorlik boekgehou is nie.

Daar is ook bevind dat sekere SVA-agente slegs daar was om na die belange van Zuma en sy faksie in die ANC om te sien.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Nkandla  |  Gevangenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.