Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zwane sê hy wis nie van klagtes in Pansat-verslag
Mxolisi Zwane

Vyf dae ná sy aanstelling as waarnemende uitvoerende hoof van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ­(Pansat) het Mxolisi Zwane glo sowat R4,5 miljoen betaal vir die dienste van ’n konsultasiemaatskappy sonder dat ’n tender daarvoor uitgesit is.

Dit is slegs een van die beweerde onregmatige bestedings van R18 miljoen waarvan Zwane beskuldig word in ’n verslag van 39 bladsye van die tesourie ná ’n ondersoek na finansiële ongerymdhede by Pansat.

Pansat is die instelling wat onder meer die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, ingevolge waarvan lede van die publiek openbare dienste in die amptelike taal van hul keuse moet kry, help toepas.

Die ondersoek het bevind ernstige finansiële ongerymdhede is by Pansat onder leiding van Zwane gepleeg – soveel so dat Pansat nie sy skuld kon delg of werknemers kon betaal nie.

Daar word verder beweer dat hierdie finansiële verknorsing uit Zwane se onreëlmatige aanstellings spruit “wat geen nut” vir Pansat gehad het nie.

Hy is R98 000 per maand betaal. Sy termyn het September 2014 tot ’n einde gekom.

Een van die hoofaanbevelings in die verslag is dat daar ’n indiepte-ondersoek na die wanbesteding gedoen moet word. Die verslag maak ook pertinent melding dat die polisie klagte van korrupsie en bedrog moet ondersoek.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het die Pansat-raad verlede maand ontbind omdat dit volgens hom nie binne sy mandaat en voorgeskrewe rol opgetree het nie.

Van die bevindings sluit in:

  • Daar is bevind dat Zwane diensverskaffers onregmatig aangestel het teen ’n totale bedrag van R18 266 914,71. Dit sluit in die dienste van die konsultasiemaatskappy Ntumba & Associates vir R4,4 miljoen om ’n omkeerstrategie uit te werk, Phulo Organisational Development Solutions om ’n bestuurstrategie uit te werk teen R2,5 miljoen, die Babhuti Research Institute vir impaknavorsing, Zanenza Communications vir geldinsamelingsgesellighede teen R3,5 miljoen.
  • Verskeie ander diensverskaffers is aangestel om regsdienste aan Pansat te voorsien, vir net minder as R5 miljoen.
  • Ntumba & Associates is vyf dae ná Zwane se aanstelling aangestel. Luidens die verslag “kon geen bewyse gevind word dat ’n tender ooit uitgesit is nie of vir die aanstelling van die diensverskaffer nie.”

Zwane het telefonies aan Netwerk24 gesê dat hy nie bewus is van hierdie ondersoek nie aangesien hy Pansat reeds in 2014 verlaat het.

“Ek het nog nooit enige verslag van hierdie aard gesien nie en was nie eens bewus daarvan nie. Ek sal die aantygings betwis sodra ek in kennis gestel word van die verslag.

“Alles wat ek gedoen het, was nog altyd in die openbaar en ek het niks om weg te steek nie. Pansat se kantoor is net af in die pad van my kantoor. Waarom het hulle my nie genader nie?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.