Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘As Barnard swart was, was pos hare’
Lt.kol. Renate Barnard in die konstitusionele hof waar haar byna nege jaar lange regstryd teen regstellende aksie hervat is. Foto: Denzil Maregele

Die 11 regters van die konstitusionele hof is deeglik bewus dat hulle oor uiters belangrike sake, soos dié van lt.kol. Renate Barnard, beslis waarin daar groot openbare belang is.

Dit is die versekering wat waarnemende hoofregter Dikgang Moseneke namens die regbank aan ’n stampvol hofsaal gegee het nadat uitspraak voorbehou is in die Barnard-saak.

Dié hof se oorweging van die belangrikste saak tot nog toe oor regstellende aksie het soveel belangstellendes getrek dat hofgangers die verrigtinge ook op die TV-skerm buite die hofsaal moes volg.

Barnard het trane in haar oë gekry toe sy die vol hofbanke sien.

Onder die hofgangers was ’n groep tronkbewaarders van die Wes-Kaap, ’n paar vriendinne van Lynnwood, Pretoria, wat op ’n toer deur die hof was en ’n paar Amerikaanse studente.

Die polisie het die hof gevra om die uitspraak van ’n volbank van die appèlhof in Bloemfontein in Barnard se guns tersyde te stel.

Dié hof het beslis die polisie het onregverdig teen Barnard gediskrimineer weens ras toe sy vir ’n tweede keer nie na ’n vakante pos bevorder is nie, al is sy deur ’n paneel as die geskikste kandidaat bevind. Adv. Hamilton Maenetje SC, namens die polisie, het aangevoer die Wet op Gelyke Indiensneming vereis van werkgewers om regstellende aksie toe te pas.

Die nasionale kommissaris het besluit om Barnard nie aan te stel nie omdat haar pos nie verteenwoordiging op salarisvlak 9 sou bevorder nie en omdat hy nie die pos as krities geag het nie, al het die polisie dit drie keer geadverteer.

Volgens Maenetje is die besluit geneem in lyn met die polisie se regmatige gelyke-indiensnemingplan. Hy het ontken dat die plan rigiede rassekwotas vir poste stel en gesê verteenwoordiging is nie ’n absolute reël wat gevolg word nie. Volgens hom is dit nie so dat die polisie ten alle koste daarna streef dat die nasionale rassedemografie op elke salarisvlak in elke afdeling weerspieël moet word nie.

Adv. Martin Brassey SC het namens Solidariteit, wat Barnard verteenwoordig, gesê daar moes ’n holistiese benadering gevolg gewees het in die aanstellingsproses waar verteenwoordiging, dienslewering en Barnard se regte teen mekaar opgeweeg is. Volgens hom het die nasionale kommissaris nie Barnard se meriete, waarop sy twee keer verreweg as die geskikste kandidaat bevind is, behoorlik opgeweeg teen verteenwoordiging nie. Brassey het gesê verteenwoordiging is as ’n absolute barometer gestel. “As Barnard ’n swart vrou was, sou sy die pos gekry het,” het hy aangevoer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.