Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Baie Afrikaanspraters ‘nie verteenwoordig’
Prof. Hein Willemse Foto: Lerato Maduna

KAAPSTAD. – Op televisie, in die media en breë kultuur, op dié openbare terreine, bly die meeste Afrikaanssprekers en hul belange steeds onderverteenwoordig.

Só het prof. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria Vrydag gesê. Hy het die hooftoespraak op die eerste dag van die swart skrywersimposium by die Universiteit van Wes-Kaapland gelewer.

“Die situasie is beter as wat dit was in 2005 of 1995 [toe die vorige simposiums aangebied is], maar swart Afrikaanssprekers word dikwels gehanteer as ’n minderheid, eerder as verteenwoordigers van ’n talige meerderheid.”

Hy het na Afrikaanse literatore gekap wat “oorgretig is om literêre tendense te kategoriseer en te periodiseer, maar by wie dit nie opkom dat die ‘Swart Afrikaanse skrywers’ ’n bepaalde stroming, tradisie, tendens of periode verteenwoordig nie”. Dit is “ ’n herkenbare beweging, met herkenbare uitgangs- en strydpunte, literêr-kritiese en sosiaal-politieke beskouings”.

Hy ag die duidelikste ontkenning hiervan in die onlangse uitgawe van Perspektief en profiel “wanneer Henriëtte Roos in haar oorsig besluit om die frase ‘skrywer van kleur’ te gebruik”. Hy ag “skrywers van kleur” as “ ’n niksseggende en ondermynende eufemisme wat niks te sê het oor stryd of opposisie nie, maar alles oor inskiklikheid en domestication”.

Hy kom tot die slotsom in 2015 “is ons moontlikhede van individuele en kollektiewe uitdrukking veelvuldiger as in die verlede, net soos ons begrip dat ons lewens as individue nou verweef is met dié van ander wesens”.

“Hier op ons . . . fragiele aarde kan ons optrede en ons lewens ’n verskil maak. In ons stryd teen apartheid het ons nie bloot gestry ter wille van identiteitspolitiek nie.

“Van veel groter belang bly die durende stryd om menswaardigheid, vryheid van armoede, die vervulling van die volle potensiaal van elke mens wat in Suid-Afrika woon en ons volgehoue verbintenis tot algehele geregtigheid en gelykheid vir almal.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.