Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Belhar? Net nie weer dít nie!’
Peiling toon Afrikaanses verlaat kerk, maar nie God

Die Belharbelydenis is dekades lank al die onderwerp van ’n intense kerkdebat, maar die helfte van die Afrikaanssprekendes wat aan ’n Rapport-peiling deelgeneem het, sê hulle weet nie waaroor die belydenis gaan nie. 

Nog ’n kwart sê hulle stel nie in die Belhardebat belang nie, 18% is ten gunste daarvan dat die NG Kerk die belydenis oor maatskaplike geregtigheid as ’n belydenisskrif aanvaar en 11% is daarteen gekant.

Die meningspeiling is vandeesmaand deur Forum24 vir Rapport gedoen onder 600 Afrikaanssprekendes, van wie sowat 40% bruin en 60% wit is. 

Wat wel kwel, wys die navorsing, is aborsie, finansiële bydrae tot die kerk, dweperige Christene en seks buite die huwelik (in daardie volgorde). 

’n Kwart van die respondente sê egskeiding is sonde en 28% voel mense in saamblyverhoudings is ongehoorsaam aan die Bybel, maar net 9% dink dat vroue nie in kerkampte behoort te dien nie. 

Amper die helfte (46%) van die respondente meen dis belaglik dat gay mense selibaat moet bly om deur die kerk aanvaar te word, en 57% glo aborsie is niks minder nie as moord. 

14% van die respondente het in die afgelope tien jaar van kerk verander en 21% van hulle het na charismatiese kerke oorgeloop. 

Volgens dr. Kobus Schoeman, medeprofessor in praktiese teolo­gie aan die Universiteit van die Vrystaat, stem die resultate van Rapport se peiling ooreen met ander navorsing wat toon dat wit Afrikaanssprekende lidmate van die NG Kerk wegdryf. 

Volgens hom probeer sommige eers ander kerkverbande, maar dit is gewoonlik net deel van die proses om uit die kerk te tree. 

Ál meer mense voel daarom nie meer tuis in die kerk nie en bly weg van die kerk af

Hy sê dit is deels as gevolg daarvan dat die susterskerke se lidmate ouer raak, maar ook aan die “verskuiwing” van die plek van godsdiens in die samelewing, die klem op individue se persoonlike godsdienstigheid en die emigrasie van Afrikaanssprekendes die afgelope dekade.

Die peiling bewys dat mense nie noodwendig sterk voel oor kwessies waarmee die Afrikaanse hoofstroomkerke die meeste worstel nie, sê dr. Chris Jones, direkteur van die Stigting vir Moraliteit en Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Dít wys baie lidmate is die kerk se besluite vooruit, sê hy, maar hulle het nie die mag binne die kerk om dit aan te pak nie.

“Ons moenie die impak onderskat van uitgesproke ouer en behoudende lidmate wat dreig om die kerk te verlaat as sekere verligte besluite geneem sou word nie. Ongelukkig dink hierdie lidmate volgens ’n bepaalde paradigma, waarin goeie, bevrydende intellektuele denke en leiding ontbreek. Dit is hulle wat tydens sinodesittings besluite neem.”

Ál meer mense voel daarom nie meer tuis in die kerk nie en bly weg van die kerk af, sê hy.

“Die institusionele kerk is nie meer vir hulle die plek waarheen hulle sal gaan vir leiding rakende etiese kwessies nie. Dit het vir hulle benoud geword, en die manier waarop daar oor God en kerkwees gepraat word, pas nie in by hul eie spirituele behoeftes en ervaring nie.”

Demokratisering het ook tot groot onsekerheid, twyfel en ontnugtering by veral Afrikaanssprekendes gelei, sê Jones.

“Hulle voel uitverkoop, veral ook deur die kerk.”

Volgens hom stoot sekulari­sasie die kerk en God uit die samelewing. “Mense ervaar dit bevrydend om nie meer deur religieuse instellings ‘beheer’ en voorgesê te word nie.

“Die belangrikste is dat hoewel God miskien na die rand van die samelewing uitgestoot word, bly en leef hy in die gedagtes en leefwêreld van ­mense.”

Waar regerings wankelrig vertoon, het kerke nog ’n kans om op sosiaal-maatskaplike terrein ’n bydrae te maak, glo hy.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.