Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
NOU IN DIE VISIER: 62 JONG RUGBYSPELERS
Blou Bulle stroop die Kaap se skole
Die Bulle soek jou kind! Veral as hy in die WP rugby speel...
Gert Smal.

Die Blou Bulle het 62 skole rugbyspelers van gr. 11 en gr. 12 in die Westelike Provinsie in hul visier.

Dit het aan die lig gekom in ’n brief wat die Blou Bulle-maatskappy se hoëprestasiebestuurder, Xander Janse van Rensburg, aan die WP Rugbyunie geskryf het. Ingevolge regulasies is unies verplig om mekaar in kennis te stel indien hulle in die ander se streek op skolespelers jag maak.

Gert Smal, die WP se direkteur van rugby, het ’n dwarsklap oor dié kwessie na die Bulle gemik.

“Duidelik het die Bulle nie vertroue in hul eie skoolstelsel of spelers nie. Dit skep die indruk dat daar geen ontwikkeling by hulle plaasvind nie. Ek sal graag wil weet hoe skoolkinders aan hulle kant daaroor voel,” het hy aan Die Burger gesê.

Die Bulle het ’n lang geskiedenis van oordadige inkopies in die WP se agterplaas.

Terwyl al die groot rugbyunies poog om Suid-Afrika se voorste jong spelers te kontrakteer, is dit die getal van 62 wat Kaapse administrateurs stomslaan.

Die Kaap is egter ’n gerieflike plek om spelers te kom teken omdat daar so ’n groot talentpoel is danksy skole soos onder meer Paarl Gimnasium, Hoër Jongenskool Paarl en Paul Roos Gimnasium.

Onder die hoëprofiel-gevalle van jong topspelers wat die Bulle uit die WP se strukture gekoop het, is die Springbok-losskakel Handré Pollard en die veelsydige Bok-agterspeler Francois Hougaard.

Pollard het aan Paarl Gimnasium gematrikuleer en die Bulle het in 2012 – die jaar wat hy die WP se Cravenweek-kaptein was – aangekondig dat hulle hom geteken het.

Duidelik het die Bulle nie vertroue in hul eie skoolstelsel of spelers nie. Dit skep die indruk dat daar geen ontwikkeling by hulle plaasvind nie. Ek sal graag wil weet hoe skoolkinders aan hulle kant daaroor voel.
GERT SMAL

Smal het intussen bevestig dat die WP nie die loskopstut Steven Kitshoff en die losskakel Demetri Catrakilis sal vrystel voordat hul kontrakte op 31 Oktober verstryk nie.

Kitshoff en Catrakilis het onderskeidelik vir Bordeaux- Begles en Montpellier geteken. Die Franse seisoen begin in Augustus.

“Ek bou nie ’n span vir Montpellier en Bordeaux nie. Steven en Demetri kan nog vir ons van waarde wees in vanjaar se Curriebeker-reeks,” het Smal gesê.

Kitshoff veral is vir die WP ’n groot verlies. Hy is op spelpeil die beste Suid-Afrikaanse loskopstut in vanjaar se Super-reeks en die WP het hom sedert sy skooldae ontwikkel. Om hom op 23 aan ’n Franse klub af te staan, is ’n yslike frustrasie.

Kitshoff kan moontlik ook in die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, se planne wees nadat Gruthrö Steenkamp sy toetsstewels opgehang het. Al wat in ’n Wêreldbekerjaar teen Kitshoff kan tel, is dat hy nie toetservaring het nie.

Smal het egter gesê dat die WP ook gehaltespelers sal bykry.

Intussen het die Springbok-skrumskakel Jano Vermaak aan rugby365.com bevestig dat hy na Suid-Afrika gaan terugkeer wanneer die Franse seisoen in Junie eindig. Smal wou nie kommentaar lewer oor die gerug dat hy WP toe kom nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.