Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boek oor Eugene De Kock se lewe kom
Verlede gekonfronteer
Anemari Jansen
Die boekomslag.

Die eerste boek wat Eugene de Kock se lewe in diepte blootlê, gaan einde Maart op die rakke wees.

Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat is deels gegrond op sy dagboeke en tronkgeskrifte, sielkundige verslae en honderde ure se gesprekke met hom in die tronk.

Die skrywer is Anemari Jansen van Alberton, wie se debuutroman, Glipstroom, verlede jaar die lig gesien het.

Jansen vertel sy en haar man was saam met hul vriend dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg en vriend van De Kock, by ’n ete.

“Hy (Croucamp) het oor Eugene gepraat en ek het hom toe gevra of ek hom kan vergesel na die tronk.

“Ek wou sommer net gesien het hoe lyk ’n tronk se binnekant.”

Sy het “nie eintlik aan Eugene die mens gedink nie” omdat sy in daardie tyd bitter min van hom geweet het.

Jansen het Croucamp toe in Junie 2011 op sy besoek aan De Kock in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria vergesel.

“Ek het besef daar sit ’n intelligente, wel belese mens voor my,” vertel Jansen.

Tydens die besoek het sy terselfdertyd besef hoe min sy van die Grensoorlog weet.

“Omdat ek ’n vrou is en geen bande met die polisie het nie, het ek regtig gevoel of ek absoluut niks weet nie.

“Ek kon nie regtig verstaan hoekom mans so graag betrokke wil wees by oorloë nie.”

Só het ’n persoonlike reis begin om die apartheidsverlede beter te probeer verstaan.

Die volgende 2½ jaar het sy De Kock een tot twee keer per maand alleen besoek.

Haar laaste besoek aan De Kock was op 29 Januarie.

De Kock het sy dagboeke, dokumente en ’n ongepubliseerde manuskrip tot Jansen se beskikking gestel. Sy het hul gesprekke ook begin dokumenteer.

“Ek mag dikwels nie papier ingeneem het nie. Ek moes baie konsentreer tydens die besoek.

“Eugene praat vinnig. Ek het geluister en probeer memoriseer wat hy sê.”

Sy het mettertyd sleutelwoorde op haar binnearm geskryf om te onthou wat gesê is.

Hoewel sy deurgaans De Kock se samewerking gehad het, is die boek haar interpretasie van wat gebeur het, sê Jansen.

“De Kock het vir my gesê dis my boek en my prerogatief om dit te skryf soos ek wil.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.