Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boer gebruik diskoligte om skape veilig te hou
Mamma se hoed laat roofdiere 'af-tjop'.
Groot welslae om jakkalse in die lamtyd van sy skape weg te hou, word op ’n plaas in die Winterberg, naby Adelaide, behaal met katogies wat ná sononder soos “diskoligte” flikker.
Sedert hierdie wolboer, Johan (Ogies) van Vuuren (51) van Bosrivier, dit gebruik, het sy lammerverliese skerp afgeneem.
Geniaal maar só eenvoudig. Dit is hoe ’n mens die boereplan kan opsom wat Van Vuuren geprakseer het om sy lammers teen die aanslag van roofdiere te beskerm.
Onder die maatreëls wat hy al getref het om sy verliese te beperk, is die gebruik van jaghonde, die elektrifisering van heinings, nagskiet en klokkies om die skape se nek.
“Maar dit is nagte se wakker lê en bekommer oor droogtes en ander dinge wat my op dié gedagte gebring het.
“Ek het gedink as daardie liggies motoriste kan waarsku, waarom kan hulle nie ook hier in die veld kom flits nie?
Agtergekom
“Ek het eers gemeen om dit aan die drade en pale vas te maak in die kampe waar die ooie lam. Oor die jare het ek egter agtergekom dat ’n jakkals baie gou aan ’n vreemde ding op presies dieselfde plek gewoond raak. Dit is tóé dat ek besluit het om dit aan die skape se koppe vas te maak. Skape slaap nie elke aand op presies dieselfde plek nie en roer ook gereeld hul kop.”
Van Vuuren het by ’n vriend, wat by die konstruksie van hoofpaaie betrokke is, die kontakbesonderhede van ’n maatskappy in Bloemfontein gekry wat die katogies invoer en bemark.
“Nadat ek aan die eienaar, Andrew Lillie, verduidelik het wat my doel daarmee is, het hy ingestem om dit aan my te verkoop. Vir die prys van sowat nege ooie kon ek vir my so ’n stuk of 40 van die katogies aanskaf.”
Hy het die eenhede, wat deur sonkrag gelaai word en elk met ses LED-lampies toegerus is, met behulp van plastiekkabelbinders (cable ties) vasgeheg aan die kop van ooie wat horings het.
“Die flitsende liggies is saans op ’n afstand van meer as ’n kilometer waarneembaar. Wat my verbaas het, was dat een wat ek in die paneelkissie van die bakkie vergeet het, ná vyf dae steeds geflits het sonder dat dit in sonlig was.”
Van Vuuren, op wie se plaas sowat 1 200 ooie in die lente
(15 Oktober tot 15 November) lam, meen drie katogies in ’n trop van 100 ooie is voldoende om die jakkalse af te skrik.
“Omdat rooikatte meestal bedags jag, weet ek nie of die kat­ogies ook as afskrikmiddel vir hulle sal dien nie. Hoewel ek vanjaar enkele lammervrektes gehad het, kon ons nie ’n enkele dooie lam sien wat deur jakkalse of rooikatte gevreet is nie.
“Soos met die ander maatreëls wat ons geneem het, weet ’n mens ongelukkig nie hoe lank die katogies as ’n afskrikmiddel vir roofdiere sal dien nie. Maar bloot die feit dat ek die afgelope lamseisoen soveel minder lammers verloor het, het meer as vergoed vir die koste daarvan.”
Van Vuuren sê die res van die skape in die trop word nie gepla deur die ooie met die liggies nie. “In teenstelling met wanneer ’n mens ’n oorplaatjie in ’n skaap se oor sit en die dier sy kop sal skud en ore klap, toon dié skape met die katogies geen irritasie nie.”
In teenstelling met baie ander bestrydingsmetodes soos slagysters en gifskieters wat hewig deur omgewingsbewustes teengestaan word, meen hy dat die katogies ’n natuurvriendelike manier is om roofdiere af te skrik.
Hy is daarvan oortuig dat die omgewingsbewustes nie hierteen beswaar sal hê nie.
. Theuns Botha is verbonde aan Landbouweekblad.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.