Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boeremag-2 se studie-aansoek van rol geskrap
Foto ter illustrasie: www.thinkstock.com

Enkelselle in tronke is om gevangenes van mekaar weg te hou – nie om daarin te studeer nie.

Dít blyk uit hofstukke van die Baviaanspoort-maksimumveiligheidstronk in reaksie op twee Boeremag-veroordeeldes se dringende hofaansoek om enkelselle te kry sodat hulle kan studeer.

Herman van Rooyen (40) en Dirk Hanekom (58), wat hul straf in dié tronk buite Pretoria uitdien, het verlede week vergeefs die hofaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien. Phillip Lekgau (38), ’n gevangene wat eers in Baviaanspoort was en nou in die Diepkloof-medium B-tronk in Johannesburg is, het die aansoek saam met hulle ingedien.

Regter Peter Mabuse het die aansoek op Oujaarsdag met koste van die rol geskrap.

Benewens enkelselle, wil die drie toegelaat word om elk ’n skootrekenaar met sagteware, ’n drukker, muis en geheuestokkie te mag aanhou.

Die hooggeregshof in Pretoria het die minister van justisie en korrektiewe dienste en die kommissaris van korrektiewe dienste op 10 Desember reeds beveel om al dié versoeke toe te staan.

Dié tussentydse bevel het die tronkowerhede tot 23 Januarie tyd gegee om redes te gee waarom die bevel nie finaal gemaak moet word nie.

Die bevel het gelui dat die drie na enkelselle verskuif word wanneer sulke selle leeg (beskikbaar) word.

Hector Mduduzi Nkosi, waarnemende hoof van Baviaanspoort, het Maandag in ’n eedsverklaring gesê alle tersiêre onderriginstellings is tans gesluit.

Hy het gesê die aansoek moet van die rol geskrap word omdat dit nie dringend is nie. Dit is voortydig, want Van Rooyen en Hanekom moet wag op die keerdatum van 23 Januarie en die owerhede moet hul hofstukke indien waarin hulle die versoeke teëstaan.

Nkosi het ontken die bevel van 10 Desember word geïgnoreer.

Hy het gesê die Baviaanspoort-tronk het eenvoudig nie genoeg geriewe om enkelselle aan die twee te gee nie.

Die tronk se veiligheidsmaatreëls en “goeie administratiewe orde” sal in die gedrang kom as hulle enkelselle en persoonlike rekenaars kry.

Hy het gesê daar is ’n rekenaarkamer waarin Van Rooyen en Hanekom weekdae ’n rekenaar kan gebruik, asook vier studeerkamers.

Van Rooyen, wat 25 jaar tronkstraf gekry het, sê in hofstukke hy is ’n “A-groep”-gevangene omdat sy gedrag foutloos is.

Hy het ’n rekenaar nodig vir sy BA-graad aan Unisa met filosofie as hoofvak. Sy familie finansier sy studies.

Van Rooyen sê in die “massa-sel” waarin hy en Hanekom is, is die TV heeldag aan en baie keer “selfs reg deur die nag”. Radio’s lawaai en baie gevangenes rook en praat hard met mekaar.

“Wanneer ons stilte versoek, word ek en (Hanekom) soms gedreig met geweld.”

Hy kry te min slaap en kan nie konsentreer op sy studies nie. Die probleem word vererger omdat hy in Engels – wat nie sy huistaal is nie – studeer.

Luidens hofstukke studeer Hanekom, wat 20 jaar tronkstraf ontvang het, teologie aan die Afrikaanse Baptistekerk-seminarium.

Lekgau, wat 12 jaar tronkstraf opgelê is weens onder meer huisbraak en diefstal, is besig met ’n diploma in sakebestuur aan Unisa. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.