Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brakke en base stap vir dié wat minder as hulle het
Dit het Shelly Anne Wash se trop beagles nie lank gevat om ’n boks hondekoekies – vir energie vir die Era/DBV-hondestaptog – uit te snuffel nie. Foto's: Herman Verwey
Toe Shelly Anne Wash (stet) se trop Beagles eers die spoor van die Era/DBV-staptog geruik het, was daar geen keer aan hulle gretigheid om deel te neem nie.
Leeloo, Chibi en Legend, se kort beentjies het hulle geensins afgeskrik om saam met hul mense-ma, Nicole Abvajee, die pad ten bate van die DBV aan te durf nie.
Daar was geen onderskeid tussen ras of geslag toe ongeveer 300 honde - en hulle eienaars - Sondag die Hedianga-plaas platgestap het ten bate van die DBV nie.

Die grootste gevaar wat Chajon, ’n gespierde Amerikaanse Staffordshire-terriër, inhou, is dat sy lang tong jou kan doodlek.

Nadat hy sy oubaas, Cobus Fourie, kilometers ver deur die staproete op die Hedianga-plaas in die ooste van Pretoria getrek het, het daardie tong sommer so skeef uit die laggende bek gehang, so asof hy wou sê: “Dit was nou vet pret!”

Chajon was een van ongeveer 300 vierpotiges wat Sondag by die Era-eiendomsagentskap se liefdadigheidstaptog vir minderbevoorregte honde gestap het.

Maryke Peiser van Era het gesê dat al die geld – ook die kleingeld vir inskrywings wat deelnemers nie wou terughê nie – ten bate van die Tshwane-

Dierebeskermingsvereniging (DBV) was.

“Oe, die honde love dit,” het Elodie le Grange uitasem gesê terwyl haar twee skaaphonde, Milla en Hailey, stertswaaiend saamgesels het.

Die honde en eienaars kon kies tussen ’n roete van 3,5 km, 5 km of 10 km.

Voordat hulle die bosse ingevaar het, het Leonor Kruger van Cipla Vet eers gou elke harige lyf met ’n vlooi- en bosluismiddel bespuit.

Die Staffordshire-terriërs het effe vies genies vir dié nattigheid, maar die langhaar-hondekinders kon nie hul lywe genoeg draai om nog koel sproei oral­oor te kry nie.

Die meeste deelnemers was tuis tussen ander honde, maar dié wat effens grommig so vroegoggend was, het ’n rooi strik gekry om te waarsku dat hulle nié die beste vroegoggend-honde is nie.

Van die pryse, wat wegbreek-naweke en geskenkbewyse by eetplekke insluit, tot die mobiele toilette is geborg.

Korky Levanon, woordvoerder van die DBV, kon nie genoeg dankie sê nie. “Ons kry nie geld van die regering of munisipaliteit nie, so enige hulp is welkom. Dit was ’n verskriklike swaar jaar vir ons en ons moet mense uit diens stel. Verdwaalde, rondloper- en mishandelde honde word na ons verwys en ons kan hulle nie wegwys nie. Daar is bedryfskoste, soos salarisse, brandstof en dan ook medikasie en kos vir die diere. Dit maak vandag fantasties vir ons en die honde,” het sy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.