Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
100 000 ha veld in Vrystaatse brande verwoes

Net minder as 100 000 ha veld is sedert 15 Oktober tot die afgelope naweek in die verskillende veldbrande in die Wes-Vrystaat vernietig, is Dinsdag op ’n byeenkoms van ’n boerevereniging in Boshof bekend gemaak.

Die Sambreel-brandbestrydingsorganisasie het die verslag oor die omvang van die skade aan Boeta de Waal, voorsitter van die boerevereniging in Boshof, oorhandig nadat dit nog tot Maandagoggend met behulp van twee satelliete opgeneem is.

Boeta de Waal, voorsitter van die Boshof-boerevereniging, het die eerste vergadering gelei. Foto: Cheréne Pienaar

Die gebiede is soos volg verdeel:

• Hertzogville: In dié brand wat verlede Sondag ontstaan het toe betogers ’n watertenk buite die dorp aan die brand gesteek het, is 28 000 ha verwoes.

• Boshof: In dié brand van die N12 af is 25 000 ha vernietig.

• Tussen Boshof en Dealesville: In dié brand, wat verlede Donderdag ontstaan het, is 12 000 ha vernietig en

• Warrenton: Dié brand wat Donderdag ontstaan het, het 20 000 ha veld vernietig.

Die plan is dat die departement van landbou die verslag aan die regering voorlê sodat die brandgeteisterde gebied tot rampgebied verklaar kan word.

Broer de Waal, ’n boer van die distrik, sê ’n mens moet in gedagte hou dat ’n stuk weiding waarvan twee derdes byvoorbeeld gebrand het, steeds in geheel afgeskryf moet word.

“Die deel wat nie gebrand het nie, het geen nut nie omdat die vee nêrens anders het om te wei nie en dan daardie deel oorbenut.”

Hy het 20 ha van sy weiding op die plaas Silva naby Boshof oor nadat 857 ha afgebrand het.

Hannes de Jager praat oor die bestuur van brande op die vergadering gelei deur Vrystaat Landbou. Foto: Cheréne Pienaar
Danie Botha, ’n boer van die Hertzogville-distrik, op die vergadering Dinsdag in Boshof. Hy sê die rol van plaaswerkers met brandbestryding moenie onderskat word nie. Foto: Cheréne Pienaar

Dries Delport, ook ’n boer in die distrik, sê die skade kon baie groter gewees het.

Hy het vertel van die wind wat meegebring het dat die brand 180 grade omgeswaai het en daarom plaashuise net-net gemis het. “Die Here was ons genadig.”

Op die vergadering is die koördinering van voerhulp, asook die bestuur van brande ook bespreek.

Gys Olivier, voorsitter van die boerevereniging in Hertzogville, sê die brande is ’n wekroep vir boere om die regte strukture te kry.

Afsetpunte vir al die voerhulp en skenkings wat inkom, is bespreek.

Hannes de Jager, ’n boer van Hertzogville, sê hy het eers die hulp van die hand gewys, maar weerlig het Maandagaand ’n brand op sy plaas veroorsaak.

Danie Botha het op die tweede vergadering, gelei deur Vrystaat Landbou (VL), gesê plaaswerkers se rol in die brandbestryding moenie onderskat word nie.

“Een van my werkers se ore het erg seergekry in die vuur.”

• Dit gaan nie goed met Tewie Nel (28), die boer wat erg gebrand het toe hy verlede week die brande in bedwang probeer bring het nie. Volgens die boeregemeenskap het hy ernstige nierskade.

Meer oor:  Boshof  |  Brande  |  Veldbrande  |  Vrystaat-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.