
Bishop Lavis-inwoners sif deur die rommel nadat ’n brand hul huise verwoes het. Foto: Facebook
Altesaam 47 mense is dakloos gelaat toe twee afsonderlike brande Dinsdag in Bishop Lavis en Athlone uitgebreek het.
Die brandweer van Kaapstad is omstreeks 04:00 na Myrtlestraat in Bishop Lavis uitgeroep waar verskeie woonstrukture aan die brand was.

’n Brand het Dinsdag verwoesting in Bishop Lavis gesaai waar 27 mense dakloos gelaat is. Foto: Facebook
Edward Bosch, woordvoerder van die Kaapse brandweerdiens, sê toe die brandweer op die toneel aankom, het verskeie huise gebrand. Drie brandweerwaens, drie watertenkers en ’n reddingsvoertuig met 24 brandbestryders was op die toneel.”
Bosch sê twee huise en ses hout- en yster-strukture is deur die brand vernietig. Altesaam 27 mense is dakloos gelaat. ’n Vrou is vir rookinaseming behandel.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
In Surrey Estate in Athlone is sewe informele woonstrukture tydens ’n brand vernietig en 20 inwoners is dakloos gelaat.
Mandy Thomas, rampbestuur-woordvoerder, het gesê dat die brand tussen Jupiter- en Taurusstraat uitgebreek het.
Thomas sê rampbestuurpersoneel is na die gebied ontplooi om die skade te evalueer.
Volgens rampbestuur sal Sassa versoek word om humanitêre verligting aan die inwoners te gee.
Thomas sê die oorsaak van die brand is nog onbekend.