Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
81-jarige vlug voor vlamme wat historiese huis verwoes
Die hoofhuis op die plaas Eben-Haëzer langs die Sonstraalpad aan die buitewyke van die Paarl Donderdagoggend tydens die brand. Foto: Facebook/Drakenstein Farm Watch

Met net haar nagklere aan, moes ’n 81-jarige vrou Donderdag in die vroegoggendure uit haar historiese plaashuis in die distrik Klein-Drakenstein buite die Paarl voor ’n vlammehel uitvlug wat in die hitte en wind blitsig versprei het.

Louise Breugem van die plaas Eben-Haëzer langs die Sonstraalpad, word sedertdien in die Mediclinic Panorama in Kaapstad behandel nadat sy vermoedelik ’n ligte hartaanval gehad het.

Louise Breugem (81) in die harteenheid van die Mediclinic Panorama en haar dogter Anne-Marie White. Foto: Verskaf

Breugem se een dogter, Patricia Combrink (51) van Stellenbosch, sê haar ma se lewe is gered deur ’n kuiergas wat in ’n slaapkamer op die boonste verdieping van die plaashuis geslaap en van die reuk van die rook van die veldbrand wakker geword het. Dit was Donderdagoggend omstreeks 03:30.

Breugem is deur die vrou, wat gevra het dat haar naam nie genoem word nie, geroep waar sy in haar kamer op die onderste verdieping van die huis was. “As dit nie was dat my ma geroep is nie, kon sy doodgebrand het,” het Combrink gesê.

Die vrou het Vrydag gesê sy het wakker geword van die reuk van wat toe nog net ’n veldbrand was. Sy het Breugem gaan roep en toe sy weer sien, het die vlamme tot op die dak van ’n kothuis en toe na die hoofhuis gespring.

Teen ligdag Donderdag het die historiese plaashuis op die plaas Eben-Haëzer steeds gebrand. Brandweerdienste kon keer dat die brand na naburige plase versprei. Foto: Verskaf/Breugem-gesin
Die murasie van die huis op die plaas Eben-Haëzer. Foto: Verskaf/Breugem-gesin

Eben-Haëzer is ’n historiese plaas uit die era toe die Franse Hugenote hulle in die gebied gevestig het en die hoofhuis dateer uit 1837.

Breugem het in die 1970’s saam met haar man, wyle Cors Breugem (85), wat in 2018 dood is, vanuit Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer. Hy het dit beskou as ’n roeping van God om hierheen te kom om mense se lewe te verbeter.

Combrink sê haar ma het twee skeepshouers met waardevolle meubels, Bybels en ander boeke, asook blou Hollandse Delft-porselein saamgebring.

“Hierdie is nie net ’n plaas nie. Dit is ’n erfenis. Alles lê nou onder rommel. Die belangrikste is egter dat niemand in die brand beseer is nie, sê Combrink.

Hollandse en Franse historiese meubels, boeke, porselein en huisware is in die brand verwoes.Foto: Verskaf/Breugem-gesin
Skerwe van die blou Hollandse Delft-porselein wat Louise Breugem in die 1970’s vanuit Nederland gebring het.Foto: Verskaf/Breugem-gesin
Dié historiese Bybels is in die brand vernietig.Foto: Verskaf/Breugem-gesin

Volgens haar kon die brand dalk begin het toe iemand ’n sigaretstompie langs die pad by ’n voertuig uitgegooi het. Die familie kan nie met sekerheid sê nie, maar dit lyk of die brand van die pad se rigting begin het en eers ’n kothuis aan die brand gesteek het. Hierna het die vlamme van die kothuis se dak na die rietdak van die groot huis versprei. Die huurders van die kothuis is ook veilig.

Die plaas is langs die Sonstraalpad aan die buitewyke van die Paarl geleë.

Daan van Leeuwen Boomkamp van die Drakenstein-plaaswag sê die sterk wind en hitte, asook die rietdakhuis, was ’n slegte kombinasie en die vlamme het blitsig versprei.

’n Veiligheidswag het die brand opgemerk toe dit nog net die veld was wat gebrand het, en het alarm gemaak. Die Drakenstein-plaaswag het dadelik die hulp van die Drakenstein-brandweer ingeroep en daar is met ’n groot gesamentlike poging gekeer dat die brand nie verder as die plaas versprei nie.

Die gesin het die brandweerdienste en nooddienste bedank omdat hulle so gou op die toneel was en vir die hulp wat verleen is.

Louise Breugem (81) gesels Woensdag met haar kleindogter en wys vir haar die historiese joernale en boeke, slegs ure voordat haar huis afgebrand het. Foto: Verskaf/Breugem-gesin


Meer oor:  Paarl  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.