Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Al die moontlike gedoen’ om brand by winkel in ruskamp te blus
Die winkel in die Letaba-ruskamp was Woensdagaand in ligte laaie. Foto: KNP

Al die moontlike is gedoen om die brand te blus wat Woensdagaand ’n winkel in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin verswelg het.

So sê Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, oor navrae van Netwerk24 dat daar glo nie genoeg brandslange was wat moontlik kon help om die brand vinniger in bedwang te bring nie.

Past. Johan Brits van die FokusDeo-gemeente in Modimolle, wat saam met sy vrou in ’n woonwa in die Letaba-kamp uitgespan het, meen die brand kon vinnig geblus word indien daar meer brandslange was.

“Daar was net een man wat met een brandslang probeer het om die vlamme te blus. Hy het sy bes gedoen.”

Brits sê ’n tenkwa vol water, wat gewoonlik gebruik word om veldbrande te blus, is ook Woensdagaand ingespan om die vlamme te blus.

Die puin van die winkel in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin. Foto: KNP

“Ek is oortuig dat die brand vinniger geblus kon word en minder skade sou aanrig indien daar meer brandslange was wat mense kon gebruik,” het Brits gesê.

Die brand het omstreeks 20:00 uitgebreek.

Phaahla sê “elke poging is aangewend om die brand te blus en ons het daarin geslaag sonder dat enigiemand dood is. Infrastruktuur kan reggemaak word, maar mense kan nie opgewek word nie”.

Volgens hom het die brand in ’n stoorkamer van die winkel uitgebreek en vinnig na ’n TV-kamer versprei.

“Ons weet nog nie wat die brand veroorsaak het nie en ’n ondersoek word gedoen.”

Hy kan nog nie sê wat die omvang van die skade is nie.

Brits sê die vlamme het binne tien minute die winkel verswelg.

Hy sê dis kommerwekkend dat daar nie ’n brandsirene afgegaan het om besoekers en werkers in die Letaba-kamp te waarsku toe die brand uitgebreek het nie.

Ek is oortuig dat die brand vinniger geblus kon word en minder skade sou aanrig indien daar meer brandslange was wat mense kon gebruik.
’n Brand het die winkel in die Letaba-ruskamp verwoes. Foto: KNP
Die winkel in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin is Woensdagaand in ’n brand verwoes. Foto: Johan Brits

Brits het Woensdagaand aan Alet Joubert gesê hulle het “iets soos skote gehoor en gedink daar is ’n aanval”.

“Motors het toe in die pad voor die woonwakamp verbygejaag en dit is toe dat ons gaan kyk wat aangaan.”

Phaahla het nie op skriftelike navrae gereageer oor hoe gereeld die wildtuin die toerusting, wat gebruik moet word sou ’n brand in kampe uitbreek, nagegaan word om te kyk of dit doeltreffend is nie. Hy kon ook nie verduidelik hoekom daar nie ’n sirene afgegaan het nie. Phaahla kan nie sê of en wanneer ’n tydelike winkel in die Letaba-ruskamp opgerig sal word nie.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.