
Brandweermanne spook om ’n brand te blus. Foto: Verskaf
Brandweer- en reddingsdienste in Kaapstad het ’n besige Desember agter die rug nadat hulle sowat 2 000 veld- en strukturele brande vir die maand moes blus.
Ondanks ’n afname in residensiële brande, was daar gesamentlik 2 251 veld- en strukturele brande in 2020 teenoor 2 114 voorvalle in 2019.
“Die afname in residensiële brande is bemoedigend, maar natuurlik is een brand steeds een te veel,” sê JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapse metro. Foto: Verskaf
Smith het ook klem gelê op die aantal huise wat vernietig is in Masiphumelele in Houtbaai en meer onlangs die informele nedersetting in Taiwan in Khayelitsha, waar die impak en koste groot vir diegene was wat alles verloor het in die verwoestende brande.
Smith sê in baie gevalle het die brande ontstaan weens nalatigheid of selfs met opset.
“Dit kan iemand wees wat ’n vuurhoutjie of sigaretstompie weggooi, of gebreekte glas wat blootgestel word aan direkte sonlig in baie warm toestande, of iemand wat vuur maak om in ’n oop ruimte te kook,” sê Smith.
Smith meen met die sterk suidoostewind, wat alombekend is in die metropool gedurende die somer, tesame met hoë temperature en baie droë plantegroei, kan ’n vuur baie vinnig versprei.
Smith sê Kaapstad het in Desember baie winderige toestande ondervind, wat waarskynlik ’n bydraende faktor was tot die effense toename in veldbrande wat vanaf 1 627 in 2019 tot 1 915 in 2020 gestyg het.
Kapenaars word versoek om enige brand by die metro se openbare noodkommunikasiesentrum aan te meld deur 021 480 7700 vanaf ’n selfoon te skakel of 107 vanaf ’n landlyn.
“Moet nooit aanneem dat iemand anders die brand of noodgeval aangemeld het nie,” sê Smith.