Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Betogers se brand’ verswelg duisende hektaar, vee in VS
‘Hemelse Vader, maak asb die sluise oop,’ skryf Wizzy Groenewald op Facebook oor die brande in die Hertzogville-distrik. ‘Ons manne is gedaan en ons boere kry swaar. Stuur asseblief, asseblief vir ons reën, Here.’ Foto: Wizzy Groenewald/Facebook

Honderde stuks vee en wild van miljoene rand is dood in ’n verwoestende veldbrand by Hertzogville in die Vrystaat wat glo deur betogers gestig is wat brandende buitebande in die pad gegooi het.

Dié brand is die grootste dié seisoen en ook een van die grootste in jare in die Vrystaat.

Dit was een van elf brande wat die naweek oor die provinsie heen gewoed het waarin duisende hektaar weiding verwoes is.

Boere sê die brand by Hertzogville het oor tientalle kilometer, tot halfpad by Bultfontein en Dealesville, gestrek en het Maandagmiddag steeds op plekke gewoed.

Die betoging oor dienslewering is steeds nie ontlont nie, en volgens inwoners het die betogers Maandagmiddag weer die pad versper en dreig hulle om motoriste met klippe te gooi.

Op een plaas het tot 150 beeste gevrek en 50 koeie sal op ’n ander plaas van kant gemaak moet word omdat hul pense en uiers gebrand het. Op ’n plaas naby Dealesville het 100 skape doodgebrand en 70 is erg beseer. Die skade beloop minstens R7 miljoen.

Herman de Bruyn van die wildplaas Hoogerop sê die vuur is nog nie dood nie en het “opgestaan”.

“Ons kan nog nie die omvang van die skade bepaal nie. Dit is baie hektaar en ’n klomp diere, waaronder wild en beeste, het doodgebrand.”

Johann Breytenbach van die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) sê die brand hier is een van die grootste wat sedert die begin van die seisoen ontstaan het.

Jenny Bornman van die plaas Palmietpan net buite Hertzogville sê die brand het Sondag om middagete ontstaan en tot by Dealesville versprei. Foto: Jenny Bornman

“Gewoonlik is die brandrisiko in daardie deel van die wêreld kleiner en nie so hoog soos in die oostelike deel nie.”

Die brandgevaar is nou uiters hoog nadat waarskuwings vir wind van tot 50 km/h uitgereik is, sê hy.

“Dit maak dit geweldig moeilik om brande te bestry.”

’n Hoë brandgevaar sal nog tot Woensdag oor groot dele van die Vrystaat – die sentrale, westelike en suidelike gedeelte – heers.

Dit gaan vandeesweek bloedig warm wees met temperature van 35 °C of meer wat vir die Vrystaat, Noord-Kaap en die Karoo voorspel word.

Dit is volgens Breytenbach tipiese toestande vir dié tyd van die jaar.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die situasie in Hertzogville wat die betogings betref “is kalm maar spanningsvol” nadat die geweld oor dienslewering Sondag om 12:00 losgebars het.

“ ’n Woedende skare het hul frustrasies, glo oor vuil water uit hul krane, op die R708 (Hertzogville/Christiana-pad) gelug.

Die massiewe brand by Hertzogville het Maandag steeds gewoed. Betogers het die brand Sondagmiddag gestig uit ontevredenheid oor waterprobleme en swak dienslewering. Foto: Jenny Bornman

“Die polisie se eenheid vir openbare orde het die skare gekalmeer en hulle het die afgesperde pad verlaat.”

Volgens Mbambo was daar glo ook ’n poging tot brandstigting by ’n raadslid se huis, maar polisielede het vinnig genoeg reageer om dit te verhoed.

Niemand is in hierdie stadium aangekeer nie.

Sarel Bornman (69), ’n veeboer van die plaas Palmietpan, sê die brand wat teen Maandag steeds gewoed het, is 10 km buite die dorp gestig en het tot teenaan sy huis, wat 5 km van die pad is, gestrek.

Dit het volgens hom aan die linker- en regterkant van die pad gebrand.

Jenny, Bornman se vrou, sê “baie meer as vyf plase” tussen Hertzogville en Bultfontein tot in Dealesville was in ligte laaie.

“Daardie groot vure was op Conovium en Vlakplaas en meer boontoe, na Dealesville se kant.”

Jenny sê dit is baie traumaties om te sien hoe jou plaas voor jou oë afbrand.

“Ons het min skade vergeleke met die ander boere, en ons hart breek vir hulle.”

Sarel en Jenny Bornman se plaas Palmietpan het ook onder die brande gely, hoewel hulle meen hul skade is heelwat minder as dié van boere op omliggende plase. Foto: Jenny Bornman
Sarel Bornman het sy arm vol geskroeide hare afgeneem nadat hy die vlamme probeer blus het. Foto: Sarel Bornman

Meer oor:  Hertzogville  |  Vrystaat-Brande  |  Betogers  |  Veldbrand  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.