
Ockert de Jager (22) van Hertzogville met die hasie wat hy uit die veldbrande by Boshof gered het. Foto: Verskaf
Een van die boere wat die brande in die Vrystaat help blus het, het te midde van die versengende hitte ’n piepklein vlakhaas gered en huis toe gevat.
Ockert de Jager (22) van die plaas Helena naby Hertzogville het Vrydag Boshof toe gejaag toe die naweek se eerste groot brand daar ontstaan het.
Min het hy geweet wat in sy eie distrik sou voorlê, want Sondag is ’n brand by Hertzogville gestig wat wyd versprei het. Intussen het die Boshof-brande Maandag weer opgevlam.
Terwyl hy ’n sagte plekkie vir die hasie, wat nog naam moet kry, ontwikkel het, is sy gedagtes en gebede deurentyd by die boere wat groot skade gely het.
“Dit is dalk ’n oulike hasie, maar ons moet dink aan al die boere wat alles verloor het en hulle in ons gebede opdra.”
De Jager voed die hasie soggens en saans 40 mm melk waar hy dit in ’n hok op hul plaas aanhou.
“En hy’s kwaai lief vir blaarslaai.”
Hy sê ander boere het hulle ook oor klein diere soos skilpaaie ontferm en na hul plase geneem.
Daar was 11 brande oor die Vrystaat die naweek. In die Wes-Vrystaat alleen is 100 000 ha verswelg met honderde stuks vee en wild wat gevrek het.