Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Botswana-brand spring oor grens na Noord-Kaap

'n Massiewe veldbrand, wat al meer as ses weke in Botswana woed en oor ’n afstand van meer 190 km strek, het Maandag oor die Suid-Afrikaanse grens gespring en veroorsaak dat weiveld tussen Askham en Van Zylsrus begin brand het.

Genadiglik is die brand Maandagaand teen omstreeks 22:00 deur boere geblus.

Die rook van die veldbrande in Botswana kon Dinsdagoggend bykans 300 km verder in die omgewing van Kathu gesien word.

Willie Rossouw, voorsitter van die Askham-boerevereniging, sê die omvang van die skade kan nog nie op hierdie stadium bepaal word nie, maar dit is gelukkig nie so erg nie. Hy se daar is geen terugvoering ontvang oor diere of wild wat in die gebied van die brand omgekom het nie. Rossouw sê die brand het meer in die Van Zylsrus-gebied gewoed.

’n Lugfoto van die massiewe veldbrand wat in die Kalahari in Botswana woed en Maandagmiddag oor die grens tussen Askham en Van Zylsrus gespring het. Foto: Skermgreep

Boere in die gebied moes behoorlik spook om die brand, wat in ’n stadium buite beheer gewoed het, onder beheer te kry.

Die wind het later die aand gedraai en dit het gehelp dat die brand toe vinniger onder beheer gebring kon word.

Die boere is nie toegelaat om oor die grens te gaan om die brand in die buurland te help bestry nie.

’n Lugfoto van die massiewe veldbrand wat in die Kalahari in Botswana woed. Foto: Skermgreep

Boere het reeds verlede week ter voorbereiding hul brandbestrydingstoerusting laat versien en was op ’n gereedheidsgrondslag indien die brand oor die grens sou kom.

In die John Taolo Gaetsewe-distrik, waar 290 000 ha reeds sedert Augustus in verwoestende veldbrande verswelg is, het nog ’n veldbrand Maandagmiddag in die omgewing van die Lomoteng-myn tussen Olifantshoek, Postmasburg en Kathu uitgebreek.

Die brand het vermoedelik weens die vonke van ’n verbygaande goederetrein ontstaan.

Volgens André Schoeman van Rhino Security, wat ook die afgelope maand gehelp het om brande in die omgewing te bestry, is nog ’n geskatte 48 000 ha weiveld in die brand verwoes.

Boere en plaaslike brandbestrydergroepe het Maandag weer gespook om ’n brand wat naby die Lomoteng-myn tussen Olifantshoek en Kathu uitgebreek het onder beheer te bring. Die brand het Dinsdag weer opgevlam. Foto: Verskaf

Die presiese omvang van die skade sal later bekend gemaak word nadat dit bepaal is.

Dié brand is ook Maandagaand omstreeks 22:00 onder beheer gebring, maar het weer Dinsdagoggend opgevlam, sê Adam Myburgh, Kathu se brandweerhoof.

Brandbestryders is tans besig om die brand onder beheer te probeer bring.

Meer oor:  Melanie Theron  |  Noord-Kaap  |  Botswana  |  Veldbrand  |  Weiveld  |  Grens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.