Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand by Franskraal ‘buite beheer’

Stormsterkwinde aan die kus het Vrydag gesorg dat verskeie veldbrande in Overstrand in die Wes-Kaap weer opgevlam het.

Inwoners van Franskraal is om 13:00 aangesê om hul huise te ontruim en na die saal van die Gansbaai-toerismekantoor in Hoofweg te gaan weens die wegholbrand wat “buite beheer” woed.

“Alle huise in Franskraal moet ontruim word,” sê Riana Steenekamp, woordvoerder van die Overstrand-munisipaliteit. Dit was egter nie onmiddellik bekend hoeveel mense in Franskraal hul huise moes verlaat nie.

Die munisipaliteit het vroegmiddag bevestig dat daar ook brande by Hawston, Karwyderskraal en die Harold Porter Botaniese Tuin in Bettysbaai voorkom. Kusdorpe in die gebied is deur die middag in digte rook gehul.

Wind van 40 km/h tot 75 km/h is in dié omgewing verwag en die munisipaliteit het die oggend gewaarsku oor veldbrande wat kan versprei.

Die R43 tussen Masakhane en Franskraal is reeds Donderdag om 20:15 gesluit weens digte rook en is teen 02:00 Vrydagoggend oopgestel.

Teen 12:00 is dié pad weer gesluit vir verkeer nadat die brand in Masakhane opgevlam het.

Op sosiale media is bespiegel dat die brand ontstaan het nadat onwettige strukture in Masakhane afgebreek is.

In Karwyderskraal het ’n bestaande brand weer opgevlam en ’n nuwe brand het ontstaan.

Die Overstrand-munisipaliteit het ’n beroep op inwoners van Franskraal gedoen om hul huise onmiddellik te ontruim. Mense moet net troeteldiere, noodsaaklike besittings en medisyne saamneem. Alle ligte en elektriese toestelle in huise moet afgeskakel word, waarna die huis gesluit moet word.

“Vir jou eie veiligheid, verlaat asseblief onmiddellik jou buurt en ry na die huis van ’n vriend of familielid wat buite die ontruimingsgebied woon.”

Intussen is die R44 tussen Gordonsbaai en Rooiels Vrydagoggend oopgestel nadat dit sedert Saterdag weens die brand in berge by Bettysbaai gesluit was.

Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het gesê die brand aan Kaapstad se kant is grootliks in bedwang.

Die Overstrand-munisipaliteit het gewaarsku dat stormsterkwind en reën die aand tot rotsstortings kan lei en dat die grond by dié pad los kan raak, waarna dit weer gesluit sal moet word.

franskraal
Foto's van die brand vroeër Vrydag by Franskraal. Foto: Matt Beckett
franskraal
Die brand Vrydag by Franskraal. Foto: Matt Beckett
franskraal
Die verwoestende brand by Franskraal. Foto: Matt Beckett

Meer oor:  Franskraal  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.