Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand by gewilde Mosselbaaise kuierplek ondersoek

Geen klagte van brandstigting is nog by die polisie aanhangig gemaak nadat die La-Belea-sportkroeg-en-restaurant Donderdagoggend deur ’n brand in puin gelê is nie.

Die kuierplek met ’n grasdak is op die strandfront by De Bakke in Mosselbaai geleë en het in November verlede jaar geopen.

Die La-Belea-sportkroeg-en-restaurant nadat dit Donderdagoggend vroeg in ’n brand verwoes is. Foto: Boetie le Roux-eiendomme

Dit was een van die sleutelbesoekpunte tydens die MosJazz 2019-fees wat in Januarie gehou is, en was ook ’n gewilde bymekaarkomplek vir mense tydens die onlangse Buffalo Rally-motorfietssaamtrek wat in Hartenbos gehou is.

“Ons het net ná middernag toegemaak,” sê een van die eienaars, Bertram Braaf. “Volgens die polisieverslag het die brand omstreeks 01:40 ontstaan. Ons het van niks geweet nie. Vanoggend toe ons by die werk kom, het ons die commotion gesien.”

Volgens hom is dit onbekend wat die brand veroorsaak het en wat die skade beloop. “Dit word ondersoek. Ons is totaal geskok,” sê hy.

Dit is ’n munisipale gebou, volgens Braaf. Hy sê hulle kyk of iets uit die puin gered en op ’n treiler gelaai kan word, maar in die stadium lyk dit nie so nie. “Hier is niks nie. Daar staan net ’n bankie.”

Brandweerwaens Donderdag by die La-Belea-sportkroeg-en-restaurant by De Bakke in Mosselbaai. Foto: Boetie le Roux-eiendomme
Die La-Belea-sportkroeg-en-restaurant voordat dit in ’n brand verwoes is. Foto: Facebook/La-Belea

Volgens die polisie is daar nog geen klag van brandstigting ingedien nie en het die brand in die vroeë oggendure ontstaan.

Ao. Pieter Koekemoer, ’n polisiewoordvoerder, sê die brandweer is ontbied en het die vlamme geblus.

Die versekeraars sal die oorsaak van die brand ondersoek, omdat die brandweer nie meer dié soort ondersoeke hanteer nie.

“Geen saak is nog gemaak nie en nog geen klagte is by die polisie ingedien nie. In die stadium word nog geen misdaad vermoed nie,” sê hy.

Foto’s van die brand het vinnig op Facebook versprei en mense het hul skok uitgespreek. Volgens inligting op Facebook was die gebou ’n bekende baken in Mosselbaai wat jare terug ook ’n padkafee was.

Brandbestryders van Mosselbaai se munisipaliteit, die Garden Route-distriksmunisipaliteit en Cape Nature het Dinsdag ’n veldbrand by Ruiterbos in Mosselbaai se munisipale gebied onder beheer gebring.

Die brand Donderdagoggend vroeg by die La-Belea-sportkroeg-en-restaurant in Mosselbaai. Foto: Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.