Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand by klub waar Small sterf

’n Man met ’n rugbytrui aan het die afgelope Dinsdag ingestap by The Harem, die seksklub in Bedfordview waar James Small verlede Dinsdagaand inmekaargesak het.

Die eienaar van The Harem, Jerome Safi, hou vol dat Small in die kroeg-gedeelte van die perseel inmekaargesak het.

Die man het by die trappe opgestap. Minute later het hy by die huis uitgehardloop en toe sien personeel rook.

Só sê Jerome Safi, eienaar van The Harem.

“Die kamer het nie afgebrand nie. Ons was betyds om die vlamme te blus voordat ernstige skade aangerig kon word,” sê Safi, ’n sakeman wat al voorheen in die nuus was oor sy beweerde bande met mense in die onderwêreld.

Safi sê niemand weet wie vir die brand verantwoordelik was nie.

“Ek weet nie of dit ’n rugby-ou is wat vir ons kwaad is oor Small of ’n mal mens nie,” het hy Vrydag gesê.

Die brand het volgens Safi wel die kringtelevisie-stelsel opgefoeter.

“Ons herstel dit juis nou,” het hy Vrydag gesê toe Rapport hom vra of daar beeldmateriaal van die brandstigter is.

Small het vermoedelik ’n hartaanval in die klub gehad het. Safi sê hy was nie by die klub toe Small ineengestort het nie, maar mense het vir hom gesê dit het in die kroeg gebeur en dat Small nooit in die kamers was nie. Volgens Safi het Small se broek geskeur toe hulle hom probeer optel het en sy hemp was oop omdat ’n meisie (ene Michelle) hartmassering probeer toepas het.

Rapport het verlede week berig ’n bron met eerstehandse kennis van die gebeure by die hospitaal sê Small was heeltemal kaal toe hy daar aangebring is. Hy het ook nie kouse of skoene aangehad nie en ’n verpleegster het hom met ’n kombers bedek.

Die bron het Safi op ’n foto geëien en gesê hy was die aand ná Small se dood by die Life Bedford Gardens-hospitaal. Dié persoon, wat homself as Steven voorgestel het, het Small se selfoon, beursie, notaboek en skootrekenaar in ’n materiaalsak na die hospitaal gebring.

“Dit was nie ek nie. Dit was ’n vriend van my. Sy naam is Kevin. Ons ken nie ’n ‘Steven’ nie en kan nie verstaan hoekom enige ‘Steven’ by die hospitaal sal opdaag en ’n vuurwapen rondswaai nie,” het Safi benadruk. Hy het vir Rapport foto’s van homself gestuur om te bewys dit was nie hy nie. Dis omdat daar volgens Safi nie ander foto’s van hom bestaan nie.

Die bron hou egter vol dit wás hy. “Dit is beslis Steven. Ek is 100% seker,” het die bron gesê.

Safi sê egter: “Ek gebruik nie ’n alias nie. Almal ken my naam. Almal ken my redelik goed. Dis sal moeilik wees om in hierdie stad my identiteit weg te steek.”

Safi sê die motorbestuurder wat Small na die hospitaal geneem het, werk vir The Harem.

Rapport het die afgelope week met verskeie vroue in die seksbedryf gesels, wat slegs bereid was om op voorwaarde van anonimiteit te praat. Een so ’n vrou, intiem bekend met The Harem se bedrywighede, sê die klub het in 2013 oopgemaak, maar moes in 2015 van die oorspronklike adres skuif na Arbroathweg 19.

“Dit was van die begin af vrot van die dwelms, veral kokaïen,” sê die bron.

Nóg ’n sekswerker het aan Rapport gesê dwelms, veral kokaïen, is nie ’n vreemde verskynsel daar nie. “Sommer oop en bloot.” Dié bron sê die kokaïen en sekssessies met die vroue wat daar werk is nie goedkoop nie.

“ ’n Full house session met een van The Harem se meisies kos R1 200. Die vrou kry R600 en die klub die res. Kokaïen kan ’n mens aanskaf vir R1 500 per gram.”

Ook dít ontken Safi. “Almal ken my gevoel oor dwelms en dié wat my ken, weet ek het nog nooit dwelms gebruik nie. Ek is 100% daarteen.”

The Harem is ook nie ’n bordeel nie, sê hy. “Dit is ’n gastelodge en ’n ontmoetingsplek vir volwassenes.”

Dr. Marcel van der Watt, ’n voormalige lid van die Valke en deesdae ’n akademikus en senior saakbestuurder van The Freedom Network (’n nieregeringsorganisasies wat teen die wettiging van die seksbedryf veg), het in 2015 ’n klag by die Valke ingedien oor die bedrywighede by The Harem. In die geskrewe klag beskryf hy hoe die plek lyk, die toestand van die vroue en hy verskaf The Harem se webadres.

Kol. Lungile Dlamini van die polisie het die afgelope week aan Rapport gesê die polisie het die plek dopgehou, maar hulle kon nie “onweerlegbare bewyse” kry dat die huis as ’n bordeel gebruik word of dat daar dwelms verkoop word nie.

Hy sê die polisieondersoek na Small se dood duur voort. “Enige besonderhede (of dokumente) oor die oorsaak van sy dood sal aan die familie oorhandig word. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die saak na die hof verwys word.”

Volgens hom is daar geen ondersoek oor die bedrywighede by The Harem aan die gang nie.

Meer oor:  James Small  |  Seksklub  |  The Harem  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.