Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand dalk sabotasie, sê LUR, premier

Terwyl brandbestryders Donderdag laatmiddag steeds die brand in die staatsgebou in Johannesburg bestry het, het opposisiepartye die blaam vierkantig voor die deur van die ANC-regering geplaas.

Die Gautengse regering het volgens die DA, VF Plus en die vakbond Nehawu hom nie gesteur aan klagtes dat die gebou gevaarlik is nie.

Jacob Mamabolo, Gautengse LUR van infrastruktuurontwikkeling, het egter gesê daar is nog geen bewyse dat die brand verband hou met die swak toestand van die gebou nie. Die moontlikheid van brandstigting word ook ondersoek.

“Hoewel ’n mens nie wil spekuleer oor hoe die brand op die 23ste verdieping ontstaan het nie, is daar ’n moontlikheid dat dit met opset gestig is om prosesse te frustreer. Die brand het in die kantore van die gesondheidsdepartement se regsdienste gebeur,” het Mamabolo gesê.

Die gebou staan Woensdagmiddag in ligte laaie. Foto: Simon Sonnekus

Premier David Makhura het gesê hy was baie bekommerd oor die regsdokumente omdat die gesondheidsdepartement baie hofsake hanteer, maar hy het verneem die meeste daarvan word elders gestoor en is veilig.

“Jy weet die gesondheidsdepartement hanteer baie sake van mediese eise, skurke wat betrokke is, en sake van korrupsie waarmee ons tans besig is. Maar ek is verseker dat die meeste van daar lêers elders is.”

Die gebou huisves onder meer die departemente van gesondheid, behuising, en samewerkende regering en tradisionele sake.

Nehawu het Woensdag aan eNCA gesê hy het aan drie LUR’e in die provinsie geskryf om sy kommer oor die toestand van die gebou uit te spreek, maar is geïgnoreer. Volgens die vakbond was dit die derde brand in die gebou vanjaar. Nehawu sê hy beplan om ’n klag by die Johannesburg-polisiekantoor in te dien.

Dié brand woed sedert Woensdagoggend. Drie brandbestryders is dood en talle ander beseer. Flou waterdruk op die hoë verdiepings het glo daartoe gelei dat die brand weer die oorhand gekry het. Verskeie brandbestryders moes uit die gebou gered word. Teen Donderdagoggend het die brand weer opgevlam en deur die hysbakskag na laer verdiepings versprei.

Mamabolo het Woensdag erken die gebou se nakoming van regulasies is maar 21%, teenoor 85% wat die minimum is waaraan voldoen moet word ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid. Dié gebou is een van agt wat volgens Mamabolo die dag net voor die brand as onveilig geklassifiseer is.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg en David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Simon Sonnekus

Die DA in Gauteng vra nou dat Mamabolo en Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid, moet bedank omdat hulle nie ag geslaan het op waarskuwings nie.

Jack Bloom, woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, en Alan Fuchs, woordvoerder oor infrastruktuurontwikkeling in die provinsie, het Donderdagoggend in ’n gesamentlike mediaverklaring gesê hulle gaan die bedankings by die provinsiale wetgewer versoek. “Die LUR’e moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul versuim om ag te slaan op verskeie waarskuwings dat die gebou ’n veiligheidsrisiko is en personeel na ’n ander plek verskuif moet word.”

Die ANC reageer op beskuldigings

Die ANC in Gauteng het Donderdag laatmiddag in ’n verklaring gesê hy vind dit onsmaaklik dat die “onsensitiewe DA” die tragiese voorval gebruik om “politieke punte te wen en die publiek met halwe waarhede te mislei”.

“Die ANC dring daarop aan dat die Gautengse provinsiale regering en die Johannesburg-metro al die nodige planne maak om te verseker dat só iets nooit weer gebeur nie,” aldus die verklaring.

Die DA het in ’n verklaring gesê dié nalatigheid herinner sterk aan die Life Esidimeni-tragedie, asook aan die voorval verlede jaar toe die dak van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg ineengestort het. Dit is tekenend van die gevaar van swak instandhouding deur die provinsiale regering, meen die DA.

Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng, sê hoewel ’n koalisieregering die Johannesburgse metro nou bestuur, het hulle ’n wanfunksionerende metro by die ANC geërf, ANC-hooggeplaastes is steeds in beheer en is daar selfs ANC-lede wat die koalisieregering saboteer om dit te laat misluk.

“Ek het tussen 2009 en 2014 self in die portefeuljekomitee oor infrastruktuurontwikkeling in Gauteng gedien. Dié departement kon sedert sy ontstaan in 2009 nog nooit doeltreffend funksioneer nie omdat noodsaaklike bestuursposte nie gevul en doelwitte nie behaal is nie.”

Makhura het gesê die regering was in ’n proses om die departemente in die betrokke gebou na ’n veiliger gebou te verskuif.

“Die eerste span – die departement van samewerkende regering en tradisionele sake – was juis besig om te skuif.”

Dié verskuiwings is volgens Makhura gegrond op die verslag dat die gebou nie in ’n goeie toestand was nie.

Hy het benadruk dat hy die nasionale tesourie gaan versoek om die verskuiwingsproses van die oorblywende sewe geboue te bespoedig.

Meer oor:  Jacob Mamabolo  |  David Makhura  |  Johannesburg  |  Jhb-Brand  |  Brand  |  Sabotasie  |  Brandbestryders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.