Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Tafelberg: Klein brande nog op plekke bestry

Kaapstad het reeds Maandag begin om ’n berekening te doen van die tol wat die vlamme geëis het in die verwoestende brand wat huise, dele van die Ikey-kampus en ander bekende bakens aan die voet van Tafelberg in puin gelê het.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Maandag saam met Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, besoek afgelê aan die Universiteit van Kaapstad (UK), waar die brand onder meer die historiese Jagger-biblioteek verswelg het.

Die brand het Sondag glo langs Philip Kgosana-rylaan ontstaan en vinnig na die hange van Tafelberg versprei, waarna kooltjies vermoedelik op die biblioteek se dak gewaai het. Die universiteit het reeds begin met ’n bestekopname van die skade en sal later kan sê wat die omvang daarvan is en wat spesifiek in die slag gebly het. Prof. Mamokgethi Phakeng, UK-visekanselier, het gesê die verlies van veral die spesiale versamelings wat in die biblioteek gehuisves is, is ’n geweldige terugslag.

“Dit is goed wat ons nie kan vervang nie en dit is pynlik om te sien hoe dit nou lyk: net as,” het Phakeng gesê.

Plato het op sy beurt vertel hoe hy gesien het hoe senior personeel in ongeloof kyk na die skade wat die vlamme aanrig.

“Toe ek gister die UK besoek het, was dit net vlamme en dit was hartverskeurend om ’n wêreldbekende biblioteek te sien wat afgebrand is.”

Winde meen egter die skade kon veel erger gewees het as dit nie was vir die flink samewerking tussen die nooddienste en die universiteit nie.

“Die koördinasie om geboue te ontruim was ongelooflik; tonne goed is by brandweerstasies afgelewer en mense het hul huise vir studente oopgemaak.”

Hy meen die universiteit kan uit die as herrys, en die brand kan sy deskundiges tot ’n beter begrip lei oor hoe sulke rampe gebeur en hoe om die risiko’s te verminder.

Die universiteit het reeds gesê hy sal onder meer kyk hoe die kenmerkende klimopplante teen sy geboue as brandstof gedien het en gehelp het om die vlamme te versprei.

Phakeng het gesê die universiteit sal “fokus op die silwer randjie en nie net die gevare nie”.

Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die brandweer, vrywilligers, skenkers en die plaaslike owerhede.

Dit was nie ’n maklike taak om sowat 4 000 studente na veiligheid te neem nie, sê Phakeng, maar die personeel en groothartige Kapenaars het dit moontlik gemaak.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - APRIL 19: The aftermath
Die uitsig oor Vredehoek, waar mense Maandag hul huis weens die brand moes ontruim. Foto: Gallo Images

“Die mense van Kaapstad het weer eens kom help en verblyf aangebied. Gift of the Givers het gister (Sondag) begin met voedselhulp en mense het voorrade kos en ander produkte vir studente kom aflaai.”

Dit was egter nie net die universiteit wat skade gely het nie. ’n Drawwer moes vir haar lewe vlug toe die vlamme haar op die berg vasgekeer en haar motor, wat by die Rhodes-gedenkteken geparkeer was, verwoes het.

Winde het gesê hoewel dit lyk of die ergste agter die rug is, hou die brand steeds ’n bedreiging in.

“Dit is nog nie verby nie en klein brande word steeds op plekke bestry,” het Winde gesê.

Arlene Wehr, insidentbevelvoerder, het Maandagmiddag gesê die brand het teen die namiddag in drie takke versprei na Walmer Estate, die universiteit se terrein en Peppertreeweg in Vredehoek.

Die sterk wind het dit onmoontlik gemaak om vroeër die dag helikopters teen die brand in te span, het sy gesê.

Charlotte Powell, woordvoerder van Kaapstad se rampbestuursentrum, sê inwoners van Zonnebloem het gisteroggend self die geboue begin ontruim en later het rampbestuurslede bystand daarmee verleen.

Teen vroegmiddag is geboue in Disa Park, Vredehoek en Zonnebloem nog ontruim, asook die skole in Zonnebloem.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê ’n man is Sondagaand in hegtenis geneem in verband met brandstigting nadat besorgde inwoners wetstoepassers se hulp ontbied het.

Smith het benadruk die man kan nie verbind word met die groot brande nie, maar hy het wel erken hy het ’n vuur aangesteek.

Reaksie

Die departement van openbare werke en die Wes-Kaapse regering het die brandbestryders bedank wat onomwonde veg om die brande in Kaapstad geblus te kry.

Patricia de Lille, die departement se minister, en Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het albei in afsonderlike verklarings ook die magdom ander organisasies bedank wat onder meer skenkings aan brandbestryders maak en studente van die Universiteit van Kaapstad bystaan, waar die brande ook groot ontwrigting veroorsaak het.

De Lille sê ’n minister se huis in Nuweland het Sondagaand afgebrand, maar niemand was toe tuis nie. Die familielede van ’n minister en twee adjunkministers is uit hul huise in Walmer Estate verwyder toe die brand na Philip Kgosana-rylaan beweeg het.

“Die brand het Sondag naby aan die adjunkpresident (David Mabuza) se woning in die Groote Schuur-kompleks gekom, maar die polisie en brandbestryders het saamgewerk en die brand is vinnig in die omgewing onder beheer gebring. Daar was geen skade aan hierdie eiendom nie,” sê De Lille.

Op sy beurt sê Winde dit was hartverskeurend om te hoor van die verlies van talle geskiedkundige geboue, soos die biblioteek en Mostert se Meul. “Maar deur die Wes-Kaapse regering en Stad Kaapstad se gekoördineerde reaksie kon ons groot dele van die berg en die universiteit red,” sê Winde.

Meer oor:  Kaapstad-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.