’n Middeljarige vrou is Sondagoggend vroeg in ’n brand dood nadat informele strukture in Foundrystraat, Soutrivier, vlamgevat het.
“Die Kaapstad-metro se brandweer-en-reddingsdienste het Sondag om 02:40 begin om die brand by die informele strukture, wat op Transnet-eiendom gebou is, te blus en om 03:01 op die lyk van ’n volwasse vrou afgekom,” sê Jermaine Carelse, woordvoerder.
Die brand is om 03:34 geblus.
Altesaam vyf strukture is in die brand vernietig, maar geen verdere beserings is aangemeld nie. Die strukture is aangrensend tot die voetpad by die platform van die Soutrivier-treinstasie.
Die polisie ondersoek die voorval.

’n Brandbestryder blus die vlamme by Paardenkloof. Foto: Twitter/Working on Fire
Intussen het brandbestryders van Werk met Vuur (WoF) in Kleinmond Sondagnag gespook om ’n brand in die Paardenkloof-omgewing naby Botrivier te blus.
“Hulle het deur die nag gewerk en uitstekende werk gedoen,” sê Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die provinsie.
“Die brandweerdienste het, met die hulp van die grondeienaar, die brand onder beheer gebring.”
Hy sê hoewel daar nie Maandagmiddag vlamme was nie, smeul dit steeds.
“Die span was weer Maandag om 08:00 op die toneel om die gebied te beveilig.”
Brandbestryders van die Hottentots-Holland-afdeling van WoF het ook Sondag ’n bergbrand naby die Theewaterskloofdam geblus. Brandbestryders was ook Maandag op die toneel om opvlammings te voorkom.