Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand in S-Kaap verwoes reeds 3 000 ha
Die brand by Vermaaklikheid. Foto: Southern Cape Fire Protection Association

Teen Dinsdag het sowat 3 000 ha reeds in Vermaaklikheid in die Suid-Kaap afgebrand.

Die veldbrand het Sondag ontstaan en toe versprei.

Weens die verwoestende aard van die brand het die stadsraad van Hessequa Dinsdag op ’n spesiale raadsvergadering in Riversdal aangekondig dat hy die gebied tot plaaslike rampgebied wil laat verklaar.

’n Versoek ter ondersteuning hiervan is ook aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gerig ingevolge art. 55 van die Rampbestuurswet (57 van 2002), sê die Hessequa-munisipaliteit in ’n verklaring.

Volgens die munisipaliteit is skade aan agt woonhuise en een stoor aangerig, en is daar groot verliese van landbougrond (weiding en ander landbougewasse, natuurlike veld, infrastruktuur soos omheining, waterretikulasie-toerusting en vee-waterstelsels ingesluit).

Nadat die brand aangemeld is, is brandweerpersoneel van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en die Hessequa-munisipaliteit dadelik ontplooi.

Bykomende brandbestryders van Werk met Vuur (WoF), spanne van die George-munisipaliteit, die Enviro Wild Fire and Goukou Farm Watch en die Southern Cape Fire Protection Association help ook met brandbestryding.

Gegewe die sterk wind en hoë temperatuur word verwag dat die verliese sal toeneem. Geen statistieke oor moontlike vee- of wildsterftes is nog bekend nie.

’n Volledige evaluasie moet nog gedoen word om die volle omvang van die brand te bepaal.

Indirekte verliese word ook verwag omdat die brand die toerisme-potensiaal van die gebied beïnvloed.

* ’n Brandbestrydingshelikopter het Dinsdagoggend by Vermaaklikheid neergestort en die vlieënier se lewe geëis toe die kabel van sy waterbak vermoedelik aan die rotor-lemme geraak het.

Die vlieënier is in sy 60’s en na verneem word, was hy ’n gesoute helikoptervlieënier.

Sy naam is nog nie bekend gemaak nie, sê kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder.

Volgens Werk met Vuur (WoF) was die Huey-helikopter ontbied om te help met die wegholbrand in die omgewing van Vermaaklikheid langs die Duivenhoksrivier. WoF se helikopters skep water in ’n waterbak wat aan ’n kabel onder die helikopter hang en stort dit op die vlamme om ’n brand te blus

Pojie sê die ongeluk het kort voor 10:00 by Vermaaklikheid gebeur. Die ongelukstoneel moes inderhaas opgeruim en die lyk voor die vlamme verwyder word.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid ondersoek die ongeluk.

Meer oor:  Vermaaklikheid  |  Riversdal  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.