Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Brand verwoes vrou se huis, dierekliniek

’n Hond en haar twee kleintjies het Vrydag doodgebrand by die SA Wildlife-rehabilitasiesentrum in Springs.

Vanessa Davis van die sentrum sê ’n gedeelte van die gebou op hul perseel is in puin gelê. Brandstigting word vermoed.

“Ons het in die voorkamer ’n bottel gekry wat vermoedelik deur die venster gegooi is. Dit het soos paraffien of petrol geruik.

Vlamme verteer ’n gedeelte van die SA Wildlife-rehabilitasiesentrum in Springs. Brandstigting word vermoed. Foto: SA Wildlife Rehabilition Center

“Daar is geen ander verduideliking soos byvoorbeeld ’n kortsluiting nie. Ons kan dus net dink dat brandstigting die oorsaak was,” sê Davis.

Die dag ná die brand is daar boonop ingebreek.

Die brand het Vrydag ontstaan in een van die geboue waar ’n werknemer, Judy Davidson, bly.

Davidson rehabiliteer al langer as 40 jaar daar diere en het alles in die brand verloor.

“Ek het glas hoor spat en die reuk van rook het my dadelik wakker laat skrik.

“Ek het dadelik die vyf honde, vyf katte en die papegaai, wat saam met my in die huis was, na buite gevat. Die ander hond en haar twee kleintjies, wat in die hoofslaapkamer was, kon ek ongelukkig nie red nie,” sê Davidson.

’n Bokkie loop verby die uitgebrande deel van die rehabilitasiesentrum. ’n Hond en twee kleintjies het verbrand, maar die ander diere is ongedeerd. Foto: SA Wildlife Rehabilitation

Davidson sê hoewel sy alles in die brand verloor het, is sy bly dienste by die sentrum kan voortgaan.

“My huis en alles daarin is vernietig, maar gelukkig het die rehabilitasiesentrum niks oorgekom nie en kan ons steeds die talle diere hier help,” sê sy.

Die verwoeste gebou het as Davidson se huis, kliniek en waskamer vir diere gedien.

Davis sê dit is hartseer om te sien hoe alles in die brand vernietig is.

“Ons is op ’n taamlik afgeleë plek en ongelukkig kon die brandweer nie betyds by ons uitkom nie. Die skade beloop sowat R2 miljoen.

“Die hele gebou sal herbou moet word. Ons is dankbaar vir al die skenkings en ek weet Judy waardeer die kruideniersware wat sy kry.”

Die deel van die sentrum wat in puin gelê is, is onder meer as ’n kliniek vir diere gebruik. Foto: SA Wildlife Rehabilitation Center

Benewens die een hond en haar twee kleintjies, is die talle ander diere by die sentrum almal veilig.

“Ons sien om na alle – diere van verkleurmannetjies tot arende.”

’n Jong luiperd wat onlangs op ’n kleinhoewe in Benoni gevang is, word ook by die sentrum gehuisves.

“Wild wat weggeneem is van mense wat dié diere as troeteldiere aanhou, neem ons in en ons versorg ook bedreigde spesies.”

Kapt. Johannes Raphora, ’n polisiewoordvoerder in Springs, sê ’n saak van brandstigting word ondersoek.

“Die brand het omstreeks 01:25 uitgebreek. Die volgende dag is diefstal op dieselfde perseel aangemeld. Ons kan nog nie bevestig wat gesteel is nie,” het Raphora Maandag gesê.

Volgens Raphora is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Judy Davidson se huis was ook in die deel van die sentrum. Sy het alles in die brand verloor. Foto: SA Wildlife Rehabilitation Center
Meer oor:  Springs  |  Misdaad  |  Brandstiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.