Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Brande in die Wes-Vrystaat: 'Skielik het jy niks’

“Rolene, julle moet vir ons bid, ’seblief, julle moet vir ons bíd. Laat ek jou sê, ons emosies is nou moer toe.”

Dit was een van talle bewerige stemnota’s van boere wat vandeesweek seer op seer beleef het in die vlamme en roet van generasies se arbeid en drome.

Grondpaaie skop stof op soos bakkies jaag na nog ’n vlamgolf, wat binne sekondes by Boshof opgeskiet het toe ’n rokende miskoek vlamvat.

Dit is op die wildplaas Makhulu Safari Lodge, waar die boer Henk Vorster 7 000 ha van sy 10 000 ha verloor het. En dit kan veel meer wees.

Skilpaaie loop vervaard rond op die grondpad. Jou keel brand en jou oë water, al is die vlamme nog 20 m ver.

brande, boshof
’n Skilpad staal hom vir die ergste terwyl die vuur weer “opgestaan” het op die Makhulu Safari Lodge, buite Boshof.

Die wind kan nét so van koers verander en nog ’n paar duisend hektaar verswelg.

Hy weet nog nie hoeveel van die 88 wildspesies tot niet is nie, sê Vorster. Steeds is hy dankbaar.

“Ek het nog ’n stuk veld en my leeus. Daar is boere wat net mooi alles verloor het.”

brande, boshof
Op ’n plaas duskant Boshof, waar duisende hektaar afgebrand het. Foto: Mlungisi Louw

Die staatstootskraper in die pad se baas sê hulle mag nie help met die brandpaaie nie.

Vorster haal sy skouers op in die warm wind.

“Hoe gaan ’n mens vorentoe in hierdie land?”

brande, vrystaat
Dit is ’n kwessie van minute wat bakkies by ’n brandende plaas opdaag. Dit is danksy radio’s wat deel van elke plaas is.

Nog ’n inwoner vertel dit wat vandeesweek in die distrikte van Boshof, Warrenton, Dealesville, Bultfontein en Hertzogville gebeur het, is iets wat in menseheugenis nie gesien is nie.

Daar was altesaam 11 brande waarvan minstens een, by Hertzogville, deur betogers begin is.

Hansie Labuschagne van die huurplaas Wesselsdam, buite Hertzogville, staan ’n tree van ’n beeskarkas wat met die tong uitgesteek lê.

Hy het minstens 110 beeste verloor waarvan 50 doodgebrand het.

Hansie Labuschagne
Hansie Labuschagne wys waar dit op sy huurplaas Wesselsdam, buite Hertzogville, gebrand het.

Dié plaas, wat hy huur, is een van vele waar ’n distopiese riller hom afgespeel het – rye opgeblase karkasse lê die wêreld vol.

“Ons het gaan help om die brand te keer net hier anderkant en het die brand taamlik gekeer gehad, toe swaai dit om hiernatoe,” sê hy.

“In tussen 20 en 30 minute het hierdie 1 100 ha afgebrand. Die brand het met ’n verskriklike spoed hier deurgekom.

“Jy hét, en dan het jy niks,” sê hy en slaan met sy hande op sy kakiebroek.

Hy moes van sy vee vir noodslagting na die slagpale aanry, maar baie kalfies is op pad daarheen dood.

“Het jy al gesien hoe lyk ’n dier wat lewendig verbrand is?”

Hy haal sy selfoon uit. Sy getinte leesbril verberg ’n ontnugtering en magteloosheid.

“Sien, die vleise gaan só af.

“Een van my beeste het met sy poot in die krip kom staan. Daai kloutjie is róú.”

Hy sê dit is maklik R2 miljoen se skade.

“Teen wie gaan ons eis?”

Die ergste, sê hy, is ’n klein kalfie wat nog gelewe het.

Het jy al gesien hoe lyk ’n dier wat lewendig verbrand is?
brande, boshof
Op ’n plaas buite Boshof waar die brande, wat onder meer uit Hertzogville kom, tot hier gebrand het.

“Sy ma was daarso. Die kalfie se ore is afgebrand en hy het baie seer gehad, sy ma het nog daar rondgestaan, sy’s ook erg verbrand. Dit was erg,” sê hy en sluk die trane weg.

“Ek moes hulle geskiet het.

“Dis nie lekker om jou diere wat jy bymekaargemaak het oor die jare so te skiet nie.”

Hy kyk weg.

“Dis so onnodig om alles te verloor.”

’n Boer mag nie gaan lê nie, laat Koos Nieuwoudt van die plaas Excelsior buite Hertzogville hoor.

Hy staan by ’n vrag bale, ’n skenking wat van KwaZulu-Natal kom. Skenkings vloei van oor die land heen in.

“Dis ongelooflik hoe baie boere kom help het,” sê hy.

“Jy het nie assuransie nie, maar net versekering as dit op jou plaas begin het en hy spring na ’n ander plaas toe.”

Een bose kringloop

brande, karkasse, vrystaat
Die beelde op plase in die Wes-Vrystaat wat verswelg is deur die vlamme, was soos ’n distopiese riller met vee wat doodgebrand het.

Die inwoners van die township leef nou in ongekende vrees vir misdadigers soos armoede toeneem.

’n Inwoner van Tokologo wat anoniem wil bly sê sy en haar suster maak beurte om te slaap.

Sy sê die “jong mannetjies” kom in en “rape voor die voet”.

Dit is hier waar die opstokers die veld aan die brand gesteek het wat tot ’n ongekende ramp gelei het. 17 het in die hof verskyn weens openbare geweld en saakbeskadiging.

Aletta Hendriks, vrou van Nico, die veearts in Hertzogville wat vandeesweek honderde diere moes help doodskiet, staan by ’n bakkie met ’n wees kalf wie se oor en stert geskroei het.

“Ons het moeilikheid, maar hulle kry net so swaar. Kyk hoeveel kinders word doodgemaak.

“Waar het die duiwel losgekom dat hierdie goed gebeur?

’n Ou kan net bid vir vrede, en bid vir reën.

“Almal kry swaar, maar ek wens net hulle kan sien. die regering kan al my belastinggeld vat en sorg vir die mense.

“Maar moenie al die geld steel en net daai paar lewe lekker nie.

“Kyk hoe swaar kry hulle! Die geld kom nie uit by die mense wat dit moet kry nie. Hierdie mense moet dit nie uithaal op ons nie.

“Ek wil net vrede hê en vir my mense sorg sodat hulle kan eet.

“Maar wat is die gevolg? Ek wil nie meer tydelike werkers op die dorp kom haal nie, want ek is bang. Jy weet nie kom kyk hulle jou goed uit nie. So, wat gebeur? Hulle staan hope hier, hulle het nie werk nie. Wat gaan hulle eet?

“Die ouens besef nie die impak nie. Gaan vra vir die ouens op die aartappelplase hoe hulle begin meganiseer het. Omdat jy bang is oor wat op jou plaas gaan gebeur, probeer jy jou werkers so min moontlik maak.

“Dis ’n bose kringloop, want nou gaan hulle nie kos hê om te eet nie. Dit dring nie tot die regering deur ons kan die een nie sonder die ander een nie. Maar solank jy mense het wat gaan opstook en aanhits, gaan jy nêrens kom nie.

" ’n Ou kan net bid vir vrede, en bid vir reën.”

Meer oor:  Boshof  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.