Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Byna kwartmiljoen al ingesamel vir wynplaas by Greyton

Byna R250 000 is teen Donderdagmiddag ingesamel vir ’n wynplaas by Greyton wat weens die onlangse veldbrande groot skade gely het.

In minder as 24 uur nadat daar met ’n skarefinansieringsveldtog op die webwerf BackaBuddy vir Lismore Estate Vineyards begin is, is meer as R225 000 ingesamel.

Die wynmaker Samantha O’Keefe (48) woon saam met haar seuns, Keenan (16) en Quinn (14), op die plaas in die Wes-Kaap.

Die brand het verlede week in die Greyton-natuurreservaat ontstaan en vandeesweek groot skade aangerig toe dit in die rigting van die dorp versprei het.

Luidens ’n verklaring van BackaBuddy het die brand Dinsdag onverwags na die wynplaas versprei en binne ’n halfuur die huis, kelder en “alles waaraan Sam die afgelope 17 jaar gewerk het”, verwoes.

“Sam was selfs dapper genoeg om in die vlamme in te ry in die hoop om haar plaaswerkers en diere te red. Ongelukkig het twee katte en ’n hond dit nie oorleef nie, maar al die personeellede is ongedeerd.”

Vriende en familielede het daarna besluit om geld in te samel sodat O’Keefe die plaas en wingerd kan herbou.

Die aanlyn insameling is Woensdag begin en teen Donderdagmiddag is minstens R245 000 al ontvang, met ’n mikpunt van R500 000.

Samantha O’Keefe, wynmaker van Lismore Estate Vineyards by Greyton. Foto: Lismore Estate Vineyards
Samantha O’Keefe (48) saam met haar seuns, Quinn (14) en Keenan (16). Foto: Lismore Estate Vineyards

Floh Thiele, ’n vriend en stigter van die aanlyn veldtog, sê in ’n verklaring “die wondervrou” O’Keefe het al verskeie terugslae en ontsaglike uitdagings oorkom, en het haar onlangs by die Kaapse Wynmakersgilde aangesluit.

Inwoners is Dinsdagmiddag tydelik uit hul huise in die noorde van Greyton ontruim, met twee huise en twee pakhuise wat afgebrand het.

O’Keefe het Woensdag bevestig haar kelder en die 2019-oes is daarmee heen en groot skade is ook aan die wingerdstokke aangerig.

Die brandweer in die Overberg-distrik het vandeesweek aangedui dat twee kinders die brand glo gestig het. Sowat 14 000 ha plantegroei is al verwoes, terwyl die skade sowat R10 miljoen beloop.

Meer oor:  Greyton  |  Brand  |  Wynplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.