Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Carnarvon-boere wil skape vir ander skenk ná brande

’n Groep boere van die droogtegeteisterde Carnarvon- en Vanwyksvlei-distrik in die Karoo beplan om skape aan die boere in die brandgeteisterde Wes-Vrystaat te skenk.

Boere hier, in die Hertzogville-, Bultfontein-, Dealesville- en Boshof-distrik, het duisende stuks vee verloor vandat die brande sedert die afgelope naweek groot dele hier verswelg het.

Elana Bester, kommunikasiebeampte van Vrystaat Landbou, sê sy het emosioneel geraak toe ’n boer van dié distrik bel en hoor of daar so ’n behoefte is en of die diere sal aanpas hier.

Jan le Grange, ’n boer van die plaas De Bruynsrus in die Vanwyksvlei-distrik, sê die boerevereniging van Carnarvon is in gesprek met naburige dorpe om ook skape te skenk.

“Ons moet net eers kyk of daar genoeg reënval in die Wes-Vrystaat voorkom om weiding te bied. Aan ons kant wil ons seker maak ons het genoeg skape om te skenk.”

Hy sê hulle het nie noodwendig die fondse nie, maar het dit op die hart om hulp tasbaar te maak vir die boere wat geraak is deur die verwoestende brande.

“In die droogte het boere in daai areas baie gehelp. Hulle help steeds met voer. Dis ons manier om ’n tasbare blyk van dankbaarheid te betoon.”

Skape op ’n plaas in die Boesmanland vreet mielies wat weldoeners vroeër as droogtevoer geskenk het. Foto: Chrismari van der Westhuizen

Bester sê VL word oorweldig deur oproepe van die publiek om te help.

“Ons fone lui onophoudelik die afgelope twee dae van mense wat net wil kom help.”

Sy sê dié wat nie kan geld gee nie, is bereid om draad te span of wat ook al nodig is om te doen.

Sy het “dadelik ’n knop in die keel gekry” toe sy die oproep uit die droë Karoo kry.

“Toe ek hom vra maar moet ons nie liewer vir húlle van die voer stuur nie, het hy vir my gesê hulle is so gewoond aan die droogte en dit is oukei, en die Vrystaatse ouens het hulle gehelp toe dit sleg gegaan het daar, so hulle wil net iets teruggee.”

Kassie

‘Karoo-skape sál in Wes-Vrystaat aanpas’

Wikus Bekker, ’n stoetboer van All-in-one Crux Dohne Merino’s van die plaas Geluksdam in die Edenburg-distrik in die Suid-Vrystaat, sê die skape uit Carnarvon behoort aan te pas in die Wes-Vrystaat as die weiding, hopelik ná goeie reën, weer teruggroei.

“Ons sê altyd wes is soetveld en oos is suurveld. Dis min of meer as jy ’n streep trek met die N1 hier op, boontoe. Wes van die N1 is taamlik soet, en oos is suur. Maar soet pas aan by soet, en Carnarvon het ook soet veld.”

Hy sê vee sal enige plek in die land aanpas op soetveld.

“Die Suid-Vrystaat het ook soetveld. Hulle kan net nie skaap skenk na die Oos-Vrystaat nie, want dis suurveld. Die Oos-Kaap en Natal is ook suurvelddele. Daai weiding is te suur.”

Meer oor:  Vrystaat-Brande  |  Politiek  |  Skape  |  Misdaad  |  Brandstigting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.