
Die kantore van die Bloemfonteinse dieretuin wat deur 'n brand verwoes is. Foto's: Verskaf
Groot skade is aangerig toe ’n brand Saterdagnag in die kantoorgebou van die Bloemfonteinse dieretuin uitgebreek het. Die dak het ingeval en meubels, rekenaars en ander toerusting is vernietig, sê brig. Sam Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie.
Bronne sê die brandweer was binne vyf minute ná ’n oproep teen 01:52 by die dieretuin, maar is opgehou toe veiligheidspersoneel eers die hek moes oopsluit.
Makhele sê ’n dossier is deur die Parkweg-polisiekantoor geopen.
Hy sê daar is aanduidings dat die brand in die dak van die gebou ontstaan het.
’n Ingeligte sê die brandweer is om 01:52 deur ’n lid van die publiek ontbied.
“Hulle was binne vyf minute daar, maar daar was ’n lang oponthoud by die hekke omdat die veiligheidsmense nie daar was om dit oop te maak nie. In daardie stadium was die brand al in ’n gevorderde stadium en die dak het reeds ingestort.”

Die dak van die kantore het ineengestort.
Nadat die brandweer deure oopgebreek het, is die vlamme gou geblus, maar drie kantore het in die slag gebly.
Die brandweer se forensiese afdeling werk saam met die polisie om die oorsaak van die brand te bepaal.
Die is vroeër vanjaar gesluit. Enkele diere, insluitende 11 buffels, moet nog verskuif word. Die perseel word steeds in stand gehou deur die personeel wat die kantoorgebou gebruik het.
Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê hulle sal reageer sodra alle inligting beskikbaar is. ’n Vergadering daaroor word vir Maandag beplan.