Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
St. Francisbaai: ‘Dringende oplossing is nou nodig’

Opruimingswerk het Vrydagoggend in die vakansiedorp St. Francisbaai voortgegaan waar ’n wegholbrand 11 huise in puin gelê het.

Dié lugfoto wys hoe ver die brand Donderdagmiddag deur die dorp en veld in St. Fracisbaai versprei het. Foto: Vincent Lyons

Twee helikopters en meer as 80 brandbestryders van die Kouga- en Nelson Mandelabaai-me­tromunisipaliteite het Donderdagmiddag die vlamme die stryd aangesê.

Die brand is omstreeks 19:20 in bedwang gebring.

Brandbestryders was Vrydagoggend steeds op die toneel.

Die brand, wat Donderdag omstreeks 15:00 in die veld naby Lymeweg-noord ontstaan het, het binne enkele ure deur ’n deel van die dorp versprei.

Altesaam 11 huise het afgebrand en twee is beskadig, het Laura-Leigh Randall, ’n woordvoerder vir die Kouga-munisipaliteit, Vrydag gesê.

“Die grond is nog plek-plek warm. Die brandweer is steeds hier,” het sy bygevoeg.

Niemand is in die voorval beseer nie.

’n Forensiese ondersoek sal gehou word om die oorsaak van die brand vas te stel, het Brenton Williams, burgemeesterskomiteelid vir finansies, Vrydag by navraag gesê.

Die grond is nog plek-plek warm. Die brandweer is steeds hier.

Volgens hom sal die brand wel ’n finansiële impak hê aangesien van die huise wat verwoes is, vakansiehuurhuise is.

Agt maande gelede het ’n soortgelyke brand tien huise in die dorp in puin gelê. In die ge­val van dié brand is die skade aanvanklik op minstens R100 miljoen ge­raam.

Die kusdorp het in 2012 ook deurgeloop toe ’n brand, wat deur sterk wind versprei is, ’n spoor van verwoesting gelaat het. Altesaam 75 huise is toe vernietig.

Een van die huise wat Donderdag in St. Francisbaai in puin gelê is. Foto: Richard Arderne

Williams sê in ’n poging om dié verwoestende brandvoorvalle in die dorp te verhoed, het die munisipaliteit verskeie bewusmakingsslypskole gehou, asook die stigting van die St.Francis-ramp vrywilligersgroep ondersteun, wat volgens hom ’n belang­rike rol speel wanneer die brande uitbreek.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het Vrydag ’n verklaring uitgereik waarin hy benadruk dat dringende stappe noodsaaklik is om soortgelyke brande in St. Francisbaai te voorkom.

“Die is nie die eerste voorval van dié aard in hierdie gemeenskap nie en dit vereis ’n dringende oplossing om nog ’n voorval te voorkom.”

Die provinsiale regering sal volgens Mabuyane wag vir die uitslag van die ondersoek na die oorsaak van die brand, waarna die inligting gebruik sal word om ’n plan saam te stel vir die voorkoming van soortgelyke brande in St. Francisbaai.

“Terwyl die ondersoek aan die gang is, moet ons die rol van die mense waardeer wat eerste op die toneel was, soos die brandbestryders van munisipaliteite en plaaslike inwoners, wat gehelp keer het dat die brand na ander eiendomme versprei.”

Meer oor:  St. Francisbaai  |  Brand  |  Helikopter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.