Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Ek gaan nie voor my man en kind doodbrand’
Die Van Zyl-gesin van die Dealesville-distrik in die Vrystaat Woensdag by die huis nadat Suzaan uit die hospitaal ontslaan is. By haar is Deon, haar man, en GJ, hul seuntjie. Foto: Verskaf

Toe die vlamme Suzaan van Zyl (31) van die Dealesville-distrik Vrydagmiddag agter op hul bakkie vaskeer, het sy vir haarself gesê sy gaan nie voor haar man en kind doodbrand nie en het toe van die bewegende voertuig afgespring.

“Dis baie seer, dis ’n seer wat ek nie gedink het ’n mens kan hê nie,” sê sy oor haar brandwonde, wat die ergste aan haar regterarm en -been is. Sy het ook blase aan haar ore.

Van Zyl is Woensdagoggend uit die Busamed-hospitaal in Bloemfontein ontslaan waar sy vir haar tweedegraadse brandwonde aan haar bene en regterarm behandel is.

Sy en Deon, haar man, het op ’n buurplaas gaan help om ’n veldbrand te beveg.

Die egpaar se vyfjarige seun, GJ, was in die bakkie toe die wind skielik draai en die vlamme haar oorval. Sy het afgespring en later in warm as geval.

“Hy het gesien toe ek hardloop en val. Hy kon nie ’n woord uitkry nie.

“Ek het so half plat probeer lê op die brandspuit, maar dit het nie gehelp nie – ek het bly brand, my bene het bly brand.”

Van Zyl is daarna na ’n dokter in Boshof vir ’n inspuiting geneem.

“Toe ek daar kom, het ek op die koue teëls gaan lê en toe gaan ek in skok.”

Dis vir haar baie lekker om weer terug by die huis te wees en onder meer saam as ’n gesin koffie te drink. Sy probeer ook soveel moontlik stap.

Sy sê dit was vir GJ gerusstellend om te sien sy ma is oukei.

“Ek dink hy was bekommerd dat Mamma by liewe Jesus is. Hy het net drukkies gegee en hy wil net hê ek moet saam met hom visvang.”

Van Zyl het op pad na die veldbrand beeste na ’n veilige plek aangejaag nadat sy gesien het hoe hulle deur die vlamme hardloop.

Suzaan van Zyl vroeër nadat sy die brandwonde opgedoen het. Foto: Verskaf

Sy het ’n kalf wat in ’n draad vasgehardloop het, gehelp en gevoel sy maag is vuurwarm gebrand.

“Ek dog toe by myself as ek vandag net die vee en een boer kan help, ’n verskil kan maak, dan sal dit my hart bly maak. Min het ek geweet ek brand self ’n uur later.”

Sy sukkel om te slaap. “As ek my oë toemaak, sien ek net die vlamme op my en waar ek hardloop en hardloop en nie van die vlamme wegkom nie.”

Van Zyl sê haar dokter is baie tevrede met hoe haar wonde nou lyk. Sy gaan komende Dinsdag weer na die teater sodat dit skoongemaak en ondersoek kan word. Aan haar regterarm is ’n stukkie kunsmatige vel geheg.

Die gesin het almal vir hul ondersteuning bedank en die boere met hul enorme verliese in die veldbrande sterkte toegewens.

Meer oor:  Vrystaat-Brande  |  Dealesville  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.