Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Ek het nie meer ’n huis nie, net ’n murasie’
Struan Law op sy plaas Uitsicht, by Belvidere naby Knysna, saam met sy hond, Dutamis, by die murasies van sy uitgebrande huis

Tonele van ongeloof en verslaentheid het Donderdag in Knysna en omgewing geheers waar inwoners die brandskade besigtig het.

Swaar rookwolke het oor die strandmeer gehang, terwyl ligte reën by tye uitgesak het. Hier en daar het brande nog gesmeul en nooddienste was steeds hard aan die werk.

Plek-plek het uitgebrande motors gestaan.

By Belvidere was Struan Law besig om op sy plaas Uitsicht tussen die murasies van sy uitgebrande huis te soek na goed wat nog gebruik kan word.

Terwyl hy besig was, het sy jackrussel, Dutamis, opgedaag. Die hond was sedert die vorige dag toe die brand uitgebreek het, spoorloos.

Law vertel hy woon al 20 jaar daar.

Dit is al wat van Struan Law se huis op sy plaas Uitsicht, by Belvidere naby Knysna oorgebly het.Foto: Eugene Gunning

Hy was Woensdag in Knysna se middedorp. Omstreeks 14:00 was hy op pad huistoe toe hy van die brand hoor.

Met sy aankoms was dit net rook en hy kon nie die huis sien nie.

Hy het verby gery en sowat twee uur by ’n nabygeleë uitkykpunt gewag

Law het alles verloor. “Ek het net die klere aan my lyf,” het hy gesê.

Sy vrou is ’n paar jaar gelede oorlede en hy het drie kinders van onderskeidelik 5, 7 en 9 jaar.

Hulle was Donderdag by mense in die omgewing.

Brandbestrydingsvoertuie ry Donderdag in die rigting van Karatara tussen Sedgefield en Knysna. Foto: Eugene Gunning

Hy het benadruk dat die Vineyard-kerk hom en sy kinders baie bystaan.

In die Elandskraal/Barrington-gebied het Christiaan Eksteen na die skade gekyk op die plaas waar hy en sy familie woon.

Iemand het hom Woensdagoggend vroeg wakker gebel en van die brande vertel.

Hy het rook geruik en hy en sy pa, Freek, het gaan ondersoek instel. Hulle het brande in die verte gesien en dit het vinnig nader gekom. Die wind het ’n rol gespeel. Dit was wind wat hy nog nooit op dié plaas beleef het nie.

Terwyl hy Donderdag op die plaas gestap het, het hy afgekom op sy beskadigde byekorwe. Tussen die as het ook ’n Suikerbekkie gelê wat doodgebrand het.

Hy het sy beeste getel en dit het gelyk of die meeste daar was.

Christaan Eksteen na waar sy byekorwe gestaan het. Dit is op ’n plaas tussen Knysna en Sedgefield Foto: Eugene Gunning

Anton du Plessis, wat in die gebied boer, se plaas en huis het heeltemal afgebrand. Hy en sy vrou, Anita, gaan op die oomblik tuis by vriende in Glentana.

Hulle sal in die volgende week nuwe woonplek soek en hy sal dan die plaas weer opbou.

Hy was nog nie weer op die plaas ná die brand nie en is van voorneme om Vrydag weer ’n draai daar te maak. Hy sien op daarteen.

“Ek het nie meer ’n huis nie. Ek het net foto’s van ’n huis. Dis ’n murasie. Daar is niks oor nie. ’n Vriend het vandag gegaan en die kluis en kaggel gaan uitbreek.”

Volgens hom is dit moeilik om vir mense te verduidelik hoe hy voel.

Daar is ook baie ander mense wat hul huise en diere verloor het.

Hy het nooit gedink so-iets sal gebeur nie. “Dit het ons heeltemal onkant betrap. Die omvang van die wind en die vlamme was erg. Dit het vuur gereën.

“Dis onwerklik. Dis soos ’n rolprent.”

’n Suikerbekkie tussen die as wat doodgebrand het.Foto: Eugene Gunning

Meer oor:  Knysna  |  Brand  |  Brandskade  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.