Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Fopnuus fnuik hulp aan boere

Fopnuus oor vragmotors met noodvoer aan boere in brandgeteisterde distrikte wat kwansuis deur brandstigters geteiken word, beduiwel broodnodige hulp aan dié gebiede.

Henk Vorster van die wildplaas Makhulu Safari Lodge naby Boshof. Foto’s: Elizabeth Sejake

Landbouleiers sê die video’s, foto’s en boodskappe doen geweldig skade en sit gemeenskappe waar die gemoedere reeds hemelhoog loop, onnodig op hol. Verder maak dit sake soveel moeiliker om hulp te kry by boere wat bykans alles verloor het.

Na raming is minstens 200 000 ha veld die afgelope week in verskeie brande verwoes wat oor ’n uitgestrekte gebied in die Wes-Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes gewoed het.

Minstens een van die brande, die een by Hertzogville in die Vrystaat, is gestig deur betogers wat skynbaar willens en wetens ’n brandende JoJo-tenk die veld ingerol het. Die voorval volg enkele dae nadat die EFF-parlementslid Mbuyiseni Ndlozi tydens die hofverskyning van die twee mans in verband met die moord op Brendin Horner in Senekal, die skare gelei het in die sing van die strydlied “Bizani iFire Brigade”. Die woorde van die lied lui onder meer: “Bel die brandweer / brand hierdie Boere”.

Die woede en magteloosheid is verder aangeblaas deur die verspreiding van opruiende fopnuus-boodskappe op WhatsApp. Sommige hiervan, soos bewerings van vragmotors met noodvoer wat aan die brand gesteek word, was bewysbaar vals, terwyl ander boodskappe aansprake gemaak het waarvoor Rapport, talle navrae en oproepe ten spyt, geen bevestiging kon kry nie.

Aantygings word nie gestaaf met feite nie.

Buiten die Hertzogville-brand is daar tot dusver min duidelike bewyse van opsetlike of politiek geïnspireerde brandstigting.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê niemand is nog vir brandstigting in hegtenis geneem nie.

“Ons ontvang heelwat aantygings van brandstigting, maar niemand het nog enige inligting ter stawing van die aantygings gelewer nie,” sê hy.

17 mense het wel Maandag op aanklagte van openbare geweld en saakbeskadiging in die hof op Hertzog­ville verskyn. Die polisie in die Noord-Kaap het egter gister berigte van vier mense wat naby Jan Kempdorp in hegtenis geneem is, ontken. Dit blyk dat die vier, in ’n goue Nissan Tiida, wel voorgekeer is onder verdenking van brandstigting, maar laat gaan is weens ’n gebrek aan bewyse.

Boere van die Boshof-brandvereniging bestry ’n brand.

Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, sê hulle weet van geen gevalle van brandstigting wat politiek gemotiveerd is nie.

“Mense moet met feite kom wat sulke bewerings maak,” sê hy.

Volgens hom word heelwat fop­nuus oor die brande op sosiale media versprei.

“Ou foto’s van vragmotors wat brand, word onder meer op sosiale media versprei om die indruk te skep dat vragmotors aan die brand gesteek word wat met lusern na brandgeteisterde plekke op pad was. Dit is als leuens. Dit is afkomstige van mense wat probeer onmin saai. Dis ’n lelike ding,” sê hy.

Beeste van Jan Haasbroek wat verlede Sondag op sy weiveld by Hertzogville gebrand het.

Hierdie fopnuus het verreikende gevolge aangesien vervoerkontrakteurs nou lugtig is om hul vragmotors met noodvoer na hierdie gebiede te stuur uit vrees dat hul voertuie aangeval of aan die brand gesteek kan word.

“ ’n Ou het my vroeër van Delmas af gebel en gesê hulle gaan nie kom nie omdat sy vragmotor met petrolbomme bestook gaan word,” het Armour gesê.

Chris van Beljon van Boere Droogtehulp SA, ’n organisasie wat al duisende vragte voer oor die land heen versprei het, is net so boos. “Jissou, ek sê vir jou, ek is só kwaad vir mense wat dit doen. Ek weet nie . . . Soek hulle sensasie?” het Van Beljon gister aan Julian Jansen gesê.

As gevolg van dié fopnuus is Boere Droogtehulp SA gedwing om twee sekerheidsfirmas en ’n ambulans van die nooddiens ER24 te kry om ’n konvooi van 30 vragmotors met noodvoer te vergesel wat vandag na Hoopstad (noord van Hertzogville) vertrek.

Boere van die Boshof-brandvereniging neem ’n blaaskans langs die pad voordat hulle brande in die omgewing bestry.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die hulp en skenkings wat van heinde en ver vir die boere instroom, is ongelooflik. “Verskeie organisasies het saamgewerk en ons kon 200 vragte voer binne drie dae vir hulle gee.”

Die grootste brande die afgelope week was gekonsentreer in ’n driehoek op die grens tussen die Vrystaat en die Noord-Kaap wat gevorm word deur die dorpe Hertzogville, Boshof en Warrenton. Hier het minstens vier reusagtige brande gewoed.

Die een wat Sondag by Hertzog­ville ontstaan het nadat betogers ’n watertenk en bande op die pad net buite die dorp aan die brand gesteek het, het gou verdeel in drie verskillende brande wat soos die drie tone van ’n reuse-oerdier ooswaarts versprei het en meer as 60 plase verwoes het. Satellietfoto’s toon dat die meeste van hierdie plase geheel en al in puin gelê is.

Die tweede groot brand het oor ’n afstand van ongeveer 20 km breed wes van Warrenton in die rigting van die Spitskopdam en die Hartsrivier gewoed.

Asof dít nie genoeg was nie, het nog twee brande wes en oos van Boshof in die Vrystaat uitgebreek.

Satellietfoto’s toon dat minstens 80 plase geheel of gedeeltelik in die twee brande verwoes is.

Tussen Schweizer-Reneke en Vryburg het verskeie brande gewoed, die meeste van hulle gekonsentreer noord en suid van die R34-grootpad tussen die twee dorpe.

Boereverenigings sê sowat 130 000 ha is in die Vrystaat verwoes, in die Noordkaap sowat 35 000 ha en sowat 40 000 ha in Noordwes.

“Gemoedere onder boere loop hoog. Die groot hoeveelheid brande wat orals kop uitsteek, maak nie vir baie mense sin nie,” het die bestuurder van ’n maatskappy wat plase in die Vrystaat beveilig, aan Rapport gesê.

Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou, het vroeër die week gesê dit is moeilik om te glo dat die brand by Hertzogville nie met opset gestig is nie.

Hy glo Ndlozi se “Bizani iFire Brigade” het die onmin onnodig aangeblaas.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het aan Netwerk24 gesê hulle gaan klagte teen Ndlozi lê.

“Die EFF het presies dit gesê en nou ondervind ons boere dit. Dit is onaanvaarbaar dat sulke goed gesê word.”

Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê die situasie onder boere is hoogs plofbaar.

“Daar is gesê mense gaan die land afbrand en daar is verskeie gerugte oor brandstigtings. Dit word deur linkse en regse groepe aangeblaas wat verdeeldheid probeer aanwakker.”

Johan Breytenbach, bestuurder van die Vrystaat Sambreel-brandbestrydingsorganisasie, het Saterdagmiddag gesê die brande in die Boshof-distrik het Vrydagnag weer opgevlam, maar was teen gisteroggend grootliks geblus.

Hy sê hulle is wel bekommerd oor veranderende weersomstandighede wat opvlammings kan veroorsaak. Dit kan brande weer buite beheer laat woed.

Daar was Saterdagmiddag onder meer agt groepe brandbestryders van die organisasie Werk met Vuur op die toneel, asook brandbestrydingshelikopters op bystand.

Meer oor:  Jack Armour  |  Vrystaat  |  Boshof  |  Wegholbrande  |  Plase  |  Boere  |  Fopnuus  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.