Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Fotograaf red 3 mense uit brandende Bettysbaai
Die bejaarde egpaar se voertuig wat Vrydag in Bettysbaai aan die brand geraak het. Foto: Justin Sullivan

’n Fotograaf en rolprentmaker het Vrydag tydens die verwoestende brande in die Overstrand-gebied in die Wes-Kaap drie mense, onder andere ’n bejaarde egpaar, na veiligheid gebring.

Die drie mense was Vrydag langs die pad in Bettysbaai in ’n lewensgevaarlike situasie vasgekeer toe die stormsterkwind ’n veldbrand deur die ooste van die dorp aangeblaas het.

Die rook het die son verduister en sigbaarheid was swak.

Justin Sullivan van Houtbaai in die Wes-Kaap, is na Bettysbaai om beeldmateriaal van die brande vir ’n dokumentêre rolprent te kry.

Terwyl hy met sy motor deur die dorp gery het, het Sullivan op ’n man afgekom wat by die pad afgeloop het. Hy het gedisoriënteerd gelyk.

Justin Sullivan, fotograaf
Justin Sullivan. Foto: Facebook

“Ek was nogal bekommerd oor hom, want dit het gelyk of hy nie weet waarheen om te gaan nie,” het Sullivan gesê.

Hy het die man in sy kar gelaai en gebring na ’n padblokkade buite die dorp waar nooddienswerkers hom behandel het.

Daarna is hy terug en op dieselfde pad het hy ’n bejaarde egpaar gesien wie se kar aan die brand geraak het.

“Die egpaar het toe uit die kar geklim en mekaar omhels. Ek het hulle in my kar gelaai en ook na die padblokkade gebring,” het Sullivan gesê.

“Mense dink altyd ek jaag net agter rampe aan om foto’s te neem. Daarom voel dit goed dat ek mense kon help. Op dieselfde manier help die foto’s wat ek neem, ook om mense van omgewingsbewaring bewus te maak.”

Volgens Sullivan rus hy Saterdag by die huis in Houtbaai. Hy dink egter nog daaroor of hy dalk binnekort sal teruggaan na die Overstrand-gebied.

Die egpaar omhels mekaar voordat hulle deur Sullivan opgelaai is. Foto: Justin Sullivan

Netwerk24 het vroeër berig 31 huise in Bettysbaai is in puin gelê, terwyl 28 gedeeltelik beskadig is. ’n Geraamde 12 800 ha natuurlike veld is in die brande verwoes.

Skade is ook in die Hemel-en-Aarde-vallei aangemeld. Vrydag het welkome reën gehelp om die gebied af te koel. Brandbestryders is steeds op hul pos as voorsorgmaatreël teen opvlammings.

Meer oor:  Brand  |  Bettysbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.