Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Gesin verloor alles toe huis brand
Die huis in Gardeniapark, Bloemfontein, wat Vrydag deur ’n brand beskadig is.

’n Bloemfonteinse egpaar en hul vier kinders moes inderhaas ander blyplek kry toe ’n brand hul huurhuis in Gardeniapark in puin gelê het.

Scott Kruger, sy vrou, Tersia, en hul kinders van 2, 4, 9 en 11 jaar oud slaap Vrydagnag by familie nadat al hul aardse besittings in die huis verwoes is.

Tersia sê sy was Vrydag voor 09:00 in ’n kamer besig toe sy vreemde geluide gehoor het.

“Toe ek in die gang afkom, het ek iets snaaks geruik en toe ek in die sitkamer kom was ek lam van skok toe ek sien die hele vertrek is in vlamme.”

Sy is inderhaas terug na die kamer om haar dogtertjie Chriselle (2) te gryp en uit die huis te vlug.

Die ander drie kinders was in die skool. Die twee oudste kinders is in die Laerskool Sand du Plessis en hul vierjarige is in ’n kleuterskool.

“My man, Scott, was in Upington. Hy is ’n drywer en het Donderdag daarheen gery. Gelukkig het sy werk hom dadelik huis toe gestuur.”

Sy sê haar papegaai, Daisy, kon gelukkig gered word.

“Ek weet nie hoe die voël buite gekom het nie. Toe ek weer sien, sit sy buite op die gras en slaan alles gade. Sy woon nie in ’n kou nie en loop gewoonlik in die huis rond.

Nog ’n foto wys hoe die huis beskadig is.

“Ongelukkig is Chriselle se hondjie in die brand dood. Die ander twee honde was buite en is ongedeerd.”

Tersia sê derduisende rande se skade aangerig en dat hulle alles verloor het.

“Hier is niks oor nie. Die inhoud van die sit- en eetkamer is verwoes. Daar is niks van die kombuis oor nie en ’n deel van die gang het ook gebrand. Die kamers is net vol rook en ruik verskriklik. Ons sal nie nou hier kan bly nie.”

Tersia sê sy weet nie wat die brand veroorsaak het nie.

Volgens Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer, is hulle om 08:48 ontbied en was binne sewe minute op die toneel.

“Die brand was in ’n gevorderde stadium en die ruite van die bure se huis het weens stralingshitte gebars. Ons het die vlamme vinnig geblus en verhoed dat dit na die buurhuis versprei.

“In die proses het ons ’n skilpad uit die brandende huis verwyder. Ons het hom afgekoel en gereël dat hy na ’n plek van veiligheid gebring word.”

Hy sê die brandweer is ’n jaar gelede ontbied na ’n brand op dieselfde perseel in die woonstel in die agterplaas.

Tersia Kruger, haar dogtertjie Chriselle (2) en omstanders buite die brandende huis
Die brandskade.
Die Mangaung-metro se brandweer was binne sewe minute op die toneel nadat hulle ontbied is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.