Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Huise beskadig in brand by St. Francisbaai

Altesaam 85 brandbestryders en twee helikopters het Donderdagmiddag laat geswoeg om ’n wegholbrand in die vakansiedorp St. Francisbaai in die Oos-Kaap in bedwang te kry.

Tussen agt en tien huise is in die brand beskadig, het Richard Arderne, ’n inwoner van dié kusdorp, gesê en vertel hoe ’n huis voor hom deur vlamme verswelg word.

Die eerste grasdakhuise het omstreeks 15:00 vlamgevat. Dit volg blykbaar nadat ’n veldbrand naby Lymeweg-noord ontstaan het, waarna dit in die rigting van die gholfbaan versprei het.

Een van die huise wat in puin gelê is tydens die wegholbrand in St. Francisbaai. Foto: Verskaf

Laura-Lee Randall, woordvoerder van die Kouga-munisipaliteit, het bevestig dat minstens 11 huise gebrand het. Sy sê hulp is van die Nelson Mandelabaai-metro en die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit gevra. Helikopters het ook gehelp om water op brandende huise te gooi.

In video’s wat op sosiale media gedeel is, is gesien hoe inwoners hul waterponies en bote op sleepwaens weg van die vlamme vervoer. Op een van die video’s kan gehoor word hoe mense aangeraai word om ’n gebied te ontruim.

Nog ’n inwoner van die dorp, wat nie genoem wil word nie, het gesê inwoners het baie gou bymekaargekom om te help met die natmaak van die huise se grasdakke wat naby aan die brand was.

“Soos ek hier staan, kan ek sien hoe ’n huis uitbrand. Die brandbestryders en gemeenskap gooi water, maar dit help nie juis nie. Die vlamme is net orals,” het die vrou gesê.

Arderne het Donderdagmiddag die brand as ’n tragedie bestempel.

“Dit is weer eens ’n hartseerdag hier vir ons almal,” het hy gesê.

Brandbestryders spuit water op ’n grasdakhuis in St. Francisbaai waaruit die rook draai. Foto: Verskaf

Die brand herinner hom aan ’n brand wat in Desember tien huise op die dorp vernietig het en roep tonele op uit 2012 toe ’n brand 75 huise in die dorp verwoes het.

Hy sê hoewel die wind tydens die verwoestende brand van 2012 veel sterker was, het ’n taamlik sterk westelike wind Donderdag nie juis gehelp om die vlamme onder beheer te kry nie.

“Die probleem is wanneer daardie grasdak vlamvat, is daar bitter min wat ons kan doen om die vlamme te keer,” het Arderne gesê.

Geen beserings of lewensverlies is onmiddellik aangemeld nie, het Randall gesê.

Die Kouga-munisipaliteit het Donderdagaand gesê die brand is omstreeks 19:00 onder beheer gebring. Owerhede hou die situasie dop.

Vlamme verswelg Donderdagmiddag die grasdak van een van die huise in St. Francisbaai. Foto: Verskaf
Meer oor:  Wegholbrande  |  St. Francisbaai  |  Huise  |  Brand  |  Brandskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.