Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Groot skade aangerig ná inbraak, brand by museum

’n Brand het grootskaalse skade aan die Fort Beaufort-museum, een van dié Oos-Kaapse dorp se oudste geboue, aangerig.

Hoewel die oorsaak van die brand nog ondersoek word, bestaan die vermoede dat inbrekers by die museum moontlik vir die brand Woensdagoggend verantwoordelik is.

“Die presiese omvang van die skade moet nog bepaal word. Die registerlys van die bates sal vandag (Donderdag) deurgegaan word om ’n koste van skade te beraam, maar baie van die items het kulturele waarde wat onvervangbaar is en dit moeilik maak om ’n prys daaraan te koppel,” sê Andile Nduna, woordvoerder vir die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur.

Die Fort Beaufort-museum was Woensdagoggend in ligte laaie. Foto: Facebook

Kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die smeulende gebou is Woensdagoggend opgelet deur plaaslike polisielede wat in die gebied gepatrolleer het.

“Hulle het ondersoek ingestel en tekens van gedwonge toegang gevind,” sê Tonjeni.

Geen beserings is weens die brand aangemeld nie.

Nduna sê die oopgeknipte gat aan die grensheining is vir die departement ’n aanduiding van gedwonge toegang met die doel om in te breek.

“Die voorval kom terwyl ons met uitbreidings en opknappingswerk by die museum besig was vir nuwe artefakte.”

Rook was later Woensdag nog by die Fort Beaufort-museum sigbaar nadat die gebou vroeër die oggend gebrand het. Foto: Facebook

Die museum, wat een van 17 museums is wat deur die provinsiale departement befonds word, het volgens Nduna ’n omvattende versameling van sowel militêre as huishoudelike artefakte wat die lewenswyse van so ver terug as die 1820’s weerspieël.

Hy sê die museum se wapenkamer beskik ook oor een van die land se grootste enkele versamelings van vuursteengewere, wat dateer uit voor die oorloë van grondonteiening, asook as ’n dokument wat die name van elke Britse soldaat bevat wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het.

“Ons sal moontlik later Donderdag kan bevestig wat alles vermis word by die museum.

“Die departement veroordeel ten sterkste die dade van vandalisme en diefstal van regeringsbates deur misdadigers.”

Tonjeni sê ’n saak van inbraak by ’n sakeperseel word ondersoek. ’n Verdere ondersoek na die voorval sal die polisie lei om moontlik nog sake te open.

Niemand is teen Donderdag nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Meer oor:  Fort Beaufort  |  Inbrekers  |  Brand  |  Museum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.