Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Inwoners dog dis ’n grap toe iemand sê ‘brand!’
huis ten bosch, brand
Inwoners van Huis ten Bosch kon Dinsdag in die vrouekoshuis Monica klere en toiletware kry wat aan hulle geskenk is ná die brand Maandagaand in Huis ten Bosch. Foto: Jaco Marais

“Ons het eers gedink dit is ’n grap toe iemand ingehardloop kom en sê dit brand,” vertel ’n inwoner van Huis ten Bosch, die vrouekoshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch wat Maandag in ’n brand beskadig is.

Die meeste van dié vrouekoshuis se inwoners was in ’n saal bymekaar omdat die nuutverkose huiskomitee aangekondig sou word.

Die studente is inderhaas ontruim en sommige is die koshuis uit met net ’n bril. Tydelike huisvesting is Maandagaand vir die studente gereël en alternatiewe huisvesting moet tot minstens Sondag gevind word.

Versekeringsassessors en bouinspekteurs was Dinsdag op die toneel om die skade te bepaal.

Inwoners sou later Dinsdag hoor wanneer hulle weer toegang tot die koshuis sou kon kry.

Die studente het Dinsdagoggend met universiteitspersoneel vergader en later die oggend ’n beradingsessie bygewoon. Hulle word bygestaan deur sielkundiges van die US.

Huis ten Bosch se leuse kom uit die1980’s. In 1983 het ’n verwoestende brand ’n groot deel van die koshuis in puin gelê. Inwoners verwys na hulself as “vroue van die vuur”.Foto: Jaco Marais

Volgens prof. Arnold Schoonwinkel, hoof van onderrig, is twee vroue tydens die brand beseer: een vir rookinaseming en die ander vir brandwonde aan haar hande.

’n Inwoner, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het vertel sy is nie net besorg oor die skade wat deur die vlamme aangerig is nie, maar ook die waterskade van die brandweer.

“Sekere mense se kamers was enkelhoogte onder water.

“Natuurlik is al die elektriese goed nou stukkend. En ons het nie eens ’n kans gehad om dit te gaan haal nie.”

Volgens die student en haar vriendin sou die nuutverkose huiskomiteelede (HK) Maandagaand aangekondig word, en daarom was die meerderheid van die 164 inwoners saam in dieselfde saal.

“Iemand kom toe ingehardloop en sy skree dat dit brand. Ons het eers gedink dit is ’n grap.”

Een van die kamers wat Maandagaand in ’n brand in Huis ten Bosch in puin gelê is. Foto: Jaco Marais
Die brand het kamers op die derde verdieping van Huis ten Bosch erg beskadig. Foto: Jaco Marais
Die woord “Inspire” het ongeskonde in die brand gebly. Foto: Jaco Marais
Dakteëls lê op die vloer van dié beskadigde vertrek. Foto: Jaco Marais
’n Muurversiering teen ’n brandbeskadigde muur. Foto: Jaco Marais
Versekeringsassessors en bouinspekteurs was Dinsdagoggend op die toneel. Foto: Jaco Marais

Baie vroue het nie veel meer as hul brille by hulle gehad toe hulle uit die koshuis gestap het nie. Baie het nie hul selfone of hul studentekaarte, identiteitsdokumente of chroniese medikasie nie.

Op die vergadering met Schoonwinkel en ander amptenare het inwoners gehoor hulle moet alternatiewe behuising kry tot Sondag.

Dié aankondiging is begroet met ’n swaar sug en talle studente wat hul kop skud. Tranerige studente was ook op die foon met hul ouers.

Die inwonende hoof van die koshuis, Karen Swart, het die studente probeer gerusstel en gesê alles in hul vermoë word gedoen om almal so gou moontlik te huisves.

Volgens veiligheidspersoneel op die toneel was dit te danke aan ’n brandmuur dat die hele koshuis nie vlam gevat het nie.

Die brand het Maandag omstreeks 19:00 uitgebreek en is om 20:30 deur die Stellenbosse brandweer geblus.

Maandagaand se brand kom 36 jaar nadat Huis ten Bosch in September 1983 ook in ’n brand beskadig is. Sedertdien verwys inwoners na hulself as “vroue van die vuur”.

huis ten bosch, brand, stellenbosch
Skenkings lê opgestapel in die ontspansaal van die vrouekoshuis Monica. Van die inwoners van Huis ten Bosch wat Maandagaand dakloos gelaat is ná 'n brand in die koshuis, het in Monica se saal oornag. Skenkings kon ook hier afgelaai word. Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Stellenbosch  |  Koshuis  |  Huis Ten Bosch  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.