Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Johannesburg het net een werkende brandweerwa

Johannesburg is nou wel Suid-Afrika se grootste stad en die ekonomiese hartklop van Suider-Afrika, maar wee die dag as ’n groot ramp dit tref – die Goudstad het net een werkende brandweerwa.

Wayen Scaife dra twee van die gesin se honde, Lola en Dora, uit die brandende huis. Foto’s: Deon Raath

Dit staan in skrille kontras met Kaapstad, wat die afgelope twee jaar 133 splinternuwe brandbestrydingsvoertuie aangekoop het om ouer voertuie te vervang én sy bestaande vloot te vergroot.

Die afgelope week het ’n huis in Sophiatown in Johannesburg glo omtrent ’n uur gebrand voordat die brandweer uiteindelik daar opgedaag het.

Die Roosevelt Park-brandweerstasie, die naaste een aan die huis in Tuckerstraat, is 5,2 km weg. Per motor behoort dit jou so nege minute te neem om die afstand af te lê.

Oëverblindery eerder as brandbestryding.

Wynand Engelbrecht, uitvoerende hoof van Fire Ops SA, ’n private brandweerdiens, sê die rede vir die stadige reaksietyd is dat die stad net een werkende brandweerwa het wat soms van afgeleë stasies gestuur moet word as ’n brand uitbreek.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van Johannesburg se nooddienste, ontken dit, maar gee toe hulle het “uitdagings”.

“Ons brandweerwaens bring die meeste van hul tyd deur in werkwinkels, besig om herstel te word. Soms het ons 11 werkende brandweerwaens, soms sewe en soms nege, afhangende van hul beskikbaarheid uit die werkwinkels.”

Wynand Engelbrecht van Fire Ops SA sê Johannesburg het slegs een werkende brandweerwa oor.

Engelbrecht sê dit is ’n leuen.

“Daar is vyf. Drie staan permanent, een werk af en toe, wat beteken daar is net een wat permanent aan diens is.”

Hy sê as iemand die brandweer in ’n noodgeval bel, neem dit maklik tien tot 15 minute voordat jy ’n antwoord kry.

“Dan moet die operateur uitvind waar die werkende brandweerwa is voordat hulle na die brand ontplooi kan word.”

Hy sê Johannesburgers is onder die wanindruk dat daar ’n brandweerwa by elke stasie is, maar elke rooi lorrie is nie noodwendig ’n brandbestrydingsvoertuig nie.

Audrey Scaife (links) word deur haar buurvrou bygestaan.

“Wanneer hulle weet die brandweerwa is ver, stuur hulle die hazmat-eenheid en die air truck.”

’n Hazmat (hazardous materials)-eenheid is ’n voertuig spesiaal toegerus om die storting van gevaarlike stowwe op te ruim of chemiese brande te beveg. Die suurstofwa huisves ekstra suurstofsilinders vir asemhalingsapparate.

“Dis eintlik alles net oëverblindery, nie brandbestryding nie,” sê Engelbrecht.

Mulaudzi erken daar is ook uitdagings in hul reaksietyd.

“In sommige gevalle kan ons weens die afstand na die toneel nie in die nodige tyd op noodgevalle reageer nie.”

Meteens word die brandslang grondlangs “vet”.

Engelbrecht sê Johannesburg se brandweervloot behoort uit 112 voertuie van verskillende konfigurasies te bestaan. Dit sluit brandweerwaens, hazmat-voertuie en reddingsplatforms in.

Benewens die handvol stukkende brandweerwaens is daar een mankolieke watertenker, ’n draaitafel-leer, ’n suurstofwa en ’n reddingsplatform, oftewel “Bronto Skylift”.

Daar is ’n tekort, erken Mulaudzi. “Ons probeer dit nie toesmeer nie. Ons inwoners is bewus daarvan en daarom het ons ’n ooreenkoms met ons buur-munisipaliteite, Tshwane en Ekurhuleni, om ons by te staan wanneer ons hulp nodig het.

“Ons wil ons inwoners verseker dit word op die hoogste vlak hanteer,” sê Mulaudzi.

Tshwane het ’n vloot van 90 voertuie (waarvan 40 brandweerwaens is) en Ekurhuleni het 29 brandweerstasies, waarvan elk ’n minimum van drie voertuie beskikbaar het.

By Rapport se aankoms op die toneel van die brand in Sophiatown die afgelope week het die brandweer klaarblyklik pas daar aangekom.

Twee brandweermanne was besig om ’n brandslang aan die kraan te probeer koppel. Die kraan het tien lang sekondes sporadiese, halfhartige spuite vuil, bruin water gegee. Toe vloei die water en die brandslang grondlangs word “vet”.

’n Huilende Audrey Scaife, huurder van die brandende huis, is deur ’n buurvrou bygestaan.

Haar gesinslede het hul verskrikte honde uit die huis gedra.

“Mense het op ons dak gewerk met grinders toe steek die gras aan die brand,” het sy gesê.

“Waar gaan ons vanaand slaap?”

Hulle het die brandweer net voor 14:00 geskakel, het sy gesê, maar die wa het eers teen 15:00 daar aangekom.

Ronnie Cloete, ’n voormalige hoof van Johannesburg se rampbestuur, sê daar is ernstige rede tot kommer. “Benewens die kritieke gebrek aan voertuie waarvan Wynand praat, is die brandwater ook ’n groot probleem. Die brandkrane en hul toevoer word nie in stand gehou nie.”

* Lees ook 'Rapport sê' hier.

Meer oor:  Johannesburg  |  Brand  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.