Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Johannesburg se brandweerwaens staan stukkend

Die stad Johannesburg het 29 brandweerstasies, maar net 16 werkende brandweerwaens.

Stukkende brandweerwaens by ’n munisipale werkswinkel naby die Floridameer in die weste van Johannesburg.

So sê Michael Sun, DA-voorsitter van die burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid in Johannesburg.

Die stad se brandweerdienste het onder skoot gekom nadat drie brandweermanne Woensdag dood is toe hulle ’n brand op die 23ste en 24ste verdieping van die Bank of Lisbon-gebou in Johannesburg se middestad probeer blus het. Een van hulle het uit die gebou geval nadat hy ’n venster op die 23ste vloer uitgeslaan het om suurstof te kry. Die ander twee is deur rook oorval.

Sun erken daar is probleme met Johannesburg se brandweerdienste nadat brandweerstasies en toerusting jare lank afgeskeep is. Party van die voertuie wat wel nog in diens is, is al 30 jaar oud. Omdat die meeste van die voertuie oorsee vervaardig is, is dit moeilik om onderdele te kry. “Dit is ’n groot probleem. Ons het dit besef toe die DA die bestuur van Johannesburg se metro in Augustus 2016 oorgeneem het.”

Toe die DA oorgeneem het, was daar ’n kontrak om nuwe brandweerwaens aan te koop, maar die verskaffer kon dit nie nakom nie. “Ná ’n proses van maande kan ons nou dié kontrak skrap en begin soek na ’n nuwe verskaffer. Ons wil ook nog ’n brandweerstasie oprig sodat Johannesburg 30 het.”

Toerusting wat gestoor word by die Sandown-brandweerstasie.

Die ideaal is twee brandweerwaens per stasie. Die stadsraad soek voorlopig na ’n verskaffer wat solank 27 nuwe waens kan lewer. Dit neem glo minstens ses maande vanaf bestelling tot lewering van ’n brandweerwa.

Volgens Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, is agt brandweermanne steeds in die hospitaal.

Sy sê twee waens met tien brandweermanne het aanvanklik op die brand gereageer, maar hulle het gou besef hulle het meer hulp nodig. Uiteindelik was daar Woensdag 45 brandweermanne. Donderdag, toe die brand weer buite beheer geraak het, was daar 70.

André Tomlinson, ’n private konsultant vir nooddiensoperasies, sê daar moes van die begin af vier of vyf brandweerwaens met ses bemanning elk gestuur gewees het. Hy sê goeie praktyk vir so ’n wolkekrabberbrand is dat ’n “brandstasie” so twee verdiepings onder die vlak wat brand ingerig moet word.

“Dié soort brande gebruik baie mannekrag, want jy moet baie verdiepings klim en kan net tien manne op ’n slag vir tien minute instuur sodat die ander ’n blaaskans kry.”

As die waterstelsel nie werk nie, soos blykbaar by die Bank of Lisbon-gebou die geval was, het jy nog meer mannekrag nodig om water van onder af boontoe te kry, sê hy.

Die LUR vir infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, Jacob Mamabolo, het erken dat die gebou net aan 21% van die veiligheidstandaarde voldoen soos bepaal deur die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid.

Meer oor:  Brand  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.