Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Kaapse brand wás met opset

Die yslike Kaapse bergbrand vroeër vanjaar wat daartoe gelei het dat talle geboue, ’n universiteitsbiblioteek en onvervangbare boeke en historiese dokumente by die Universiteit van Kaapstad (UK) vernietig is, is met opset gestig.

Om middernag op 18 April het ’n sterk suidoostewind die vlamme oor die nek van Duiwelspiek na Vredehoek aangejaag. Foto: Marzahn Botha

Dit is die gevolgtrekking waartoe Rob Erasmus, ’n brand-ondersoeker verbonde aan Enviro Wildfire Services (EWS), gekom het nadat hy beeldmateriaal van snelwegkameras in die omgewing van Duiwelspiek, waar die brand op Sondag 18 April begin het, ondersoek het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke), wat die Tafelberg Nasionale Park (TNP) bestuur, het ’n beloning van R10 000 uitgereik vir inligting wat tot die inhegtenisneming van die brandstigters sal lei. Die Kaapse munisipaliteit het nog R20 000 bygevoeg wat die beloning op R30 000 te staan bring.

Beeldmateriaal – wat die stadsraad nie op dié stadium aan die publiek wil wys nie – toon blykbaar hoe ’n voertuig kort voor die brand stadig op Philip Kgosana-rylaan op Hospitaaldraai, in die omgewing van die Groote Schuur-hospitaal, stilhou. Een van die insittendes gooi daarna iets in die veld, waarna die brand begin.

Vroeër is gemeen dat die brand deur bosslapers begin is nadat ’n kookvuur buite beheer geraak het. Dié moontlikheid is egter uitgesluit nadat Erasmus geen teken van ’n slaapplek in die omgewing waar die brand begin het, kon vind nie.

Ooggetuies het die vermeende stigters van die tweede brand gesien.

Die brand, aangejaag deur ’n sterk wind, het gou die restaurant by die Rhodes-gedenkteken verwoes en kort daarna die UK se Jagger-biblioteek verswelg. Daarna het dit oor Rhodes-rylaan (die M3) gespring en ook ’n ministerswoning, De Meule, naby die historiese Mostert se Meul, in puin gelê. De Meule was ’n nasionale monument.

Terwyl die brand gewoed het, is ’n tweede brand teen Duiwelspiek gestig en die vlamme het ook die woonbuurt Vredehoek, wat hoog teen die voet van Duiwelspiek geleë is, bedreig.

Ooggetuies het die vermeende stigters van die tweede brand gesien en een persoon is aangekeer.

Barry Schuller, senior superintendent: geslotekring-TV van die metro, het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê hul kameras het die voertuig op die N2 by die M5-kruising gewaar net voor die brand uitgebreek het. Op Hospitaaldraai het die voertuig stadig op die padskouer beweeg en ’n insittende het “ ’n voorwerp” uitgegooi. Die voertuig het toe weer by die verkeer aangesluit.

Twee minute nadat die voertuig vertrek het, het die operateur van die kamera langs die pad die rook in die veld gesien en die brandweer ontbied.

Die voertuig is ook op Nelson Mandela-boulevard, in die rigting van die stadskom, opgemerk waar dit by Searlestraat in die Walmer-landgoed afgedraai het. Dit is nie daarna weer op die kringtelevisie gesien nie.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapse metroraad, gaan hulle nie die fabrikaat en model van die voertuig bekend maak nie omdat hulle dié inligting wil verifieer met enige inligting wat lede van die publiek verskaf. Smit sê die kamerabeelde se resolusie is nie goed genoeg om die voertuig se registrasienommer te kan lees nie.

Hy sê terwyl die kamera-operateur die voertuig dopgehou het, het ’n Tuk-Tuk-voertuig ’n verkeersoortreding begaan, wat die operateur se aandag afgetrek het.

Erasmus sê tydens sy ondersoek is sosiale media gefynkam vir foto’s en stappers, fietsryers en selfs passasiers en vlieëniers van vlugte wat in daardie stadium oor die Skiereiland gevlieg het, is ondervra.

Geen glas is in die veld gevind wat deur refraksie (ligbreking) van sonlig ’n brand kon begin het nie. Weerlig en rotsstortings is ook uitgeskakel as die oorsaak, sowel as die moontlikheid van vonke van die verbranding van mediese afval by die Groote Schuur-hospitaal.

Volgens Philip Prins, brand- en tegniese bestuurder by die TNP, beloop die koste van die brandbestryding (wat lone en vervoer betref) R1,3 miljoen.

Dit sluit die R900 000 in vir die helikopters wat gehelp het.

Prins sê gedurende verlede jaar se brandseisoen is 41% van die brande deur haweloses en 45% met opset gestig.

Volgens Smit is haweloses ’n groot kopseer en een van die probleme is dat die Nasionale Rampbestuurswet, wat weens die nasionale inperking in werking is, wetstoepassers verhoed om haweloses te verwyder.

Sanparke se waarnemende bedryfshoof, dr. Luthando Dziba, sê hulle het nog geen siviele eise vir die brand ontvang nie.

Elijah Moholola, UK-woordvoerder, sê hulle wag nog vir hul versekeraar se brandverslag.

Meer oor:  Tafelberg  |  Kaapstad  |  Brand  |  Brandstigting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.