Die verwoestende brand wat Donderdag in Masiphumelele, ’n informele nedersetting buite Kommetjie in Kaapstad, gewoed het, is Vrydag in die vroeë oggendure geblus.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstadse brand-en-reddingsdienste, is geen beserings aangemeld nie. Alle paaie in die gebied is ook weer oopgemaak.
Netwerk24 het vroeër berig dat minstens 1 000 plakkershutte in die brand in puin gelê is. Meer as 60 brandbestryders, 13 brandweerwaens en ’n helikopter was Donderdagaand op die toneel om die brand in bedwang te bring.
Die brand was omstreeks 01:00 geblus en volgens Carelse is die brandspanne steeds op die toneel om die situasie te monitor.
’n Veldbrand in Kampsbaai is intussen ook in bedwang gebring. Die brand het Donderdagmiddag tussen Bakoven en Kampsbaai, net bokant Victoria-rylaan, uitgebreek.
Die brandbestryders sal na verwagting omstreeks 09:00 deur ’n nuwe span afgelos word wat deur seisoenale brandbestryders bygestaan word.