Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Kaapstad: Wind, rook en vlamme

Verskeie geboue van die Universiteit van Kaapstad (UK) asook ander geskiedkundige geboue in die omgewing is Sondag in ’n brand in Kaapstad verwoes.

Die brand, wat die hele dag voortgewoed het, is 'n bron van kommer vir die nooddienste nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens 'n sterk suidoostewind gepaardgaande met ’n hoë brandgevaar vir Maandag voorspel het.

Brandbestryders probeer vlamme blus by ’n biblioteek van die Universiteit van Kaapstad nadat ’n veldbrand Sondagoggend teen die hange van Tafelberg uitgebreek het. Foto: Reuters

Binne etlike ure was Kaapstad se suidelike voorstede in rook gehul nadat die brand naby die Rhodes-gedenkteken vinnig groot skade aangerig het.

Die eerste en tweede verdieping van die Chancellor Oppenheimer-biblioteek op die universiteit se boonste kampus is in die brand beskadig.

Die brand het ’n deel van die Rhodes-restaurant en -teetuin by die Rhodes-gedenkteken verwoes, asook die geskiedkundige Mostert se Meul by Rhodes-rylaan langs die M3. Twee grasdakgeboue het ook in die slag gebly.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstad-metro se branddienste, sê hulle is omstreeks 08:45 na die toneel ontbied nadat die brand ’n tydjie vroeër reeds begin het.

Die wolkpluim bo die brandende gebied soos gesien vanaf die Tygerberg-natuurreservaat in Plattekloof. Foto: JACO MARAIS
Die brand het vinnig na die Universiteit van Kaapstad versprei. Hier brand ’n boom langs ’n gebou op die boonste kampus. Die kenmerkende rankplante teen die geboue van die boonste kampus het ook gebrand.
Vlamme lek nog aan plantegroei om die bordjie wat by die Rhodes-gedenkteken aangebring is. Foto: JACO MARAIS
Die historiese Mostert se Meul in Mowbray is ook vernietig. Die meul is in 1796 gebou en was die oudste en enigste volledig oorblywende windmeul in sy soort in Suid-Afrika. Foto: JACO MARAIS
Die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad is in vlamme gehul.Foto: JP Smith
’n Brandbestryder is na ’n hospitaal geneem nadat hy brandwonde opgedoen het.Foto: Abass Petersen

Die brand het langs Philip Kgosana-rylaan by Hospitaaldraai ontstaan en vinnig na die hange van Tafelberg by die Rhodes-gedenkteken versprei.

Philip Prins, woordvoerder van Sanparke se brandweerdienste, sê die brand het so vinnig versprei omdat dit ’n baie warm dag was en die brand sy eie wind veroorsaak het.

“Weens digte rookwolke en sterk stygwinde was dit byna onmoontlik vir brandbestryders in die lug om die verspreiding vinnig genoeg te keer,” sê Prins.

Brandbestryders van Nuweland se stasie is eerste na die brand ontbied, maar later is omliggende stasies ook ingespan. Benewens die brandbestryders was daar vier helikopters en verskeie watertenkwaens op die toneel wat deur die metro en die Tafelberg Nasionale Park (TNP) bestuur word.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het teen Sondagaand laat gesê vier helikopters word steeds gebruik om die brand te probeer blus, met tussen 150 en 200 brandbestryders wat op die brandlyn die vlamme blus. Bredell sê inligting oor die omvang van die skade word nog ingesamel.

Jessica Lyon, bestuurder van die restaurant by die Rhodes-gedenkteken, sê sy en haar span van 20 werknemers kon almal veilig van die toneel wegkom.

“Dit is absoluut verskriklik,” sê sy.

Sy het egter nie enige verdere inligting verskaf nie.

Carelse sê ’n brandbestryder is hospitaal toe geneem nadat hy brandwonde opgedoen het. ’n Tweede bestryder is vir rookinaseming behandel.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die metro se verkeersdienste, het reeds vroeg in die dag gesê alle paaie na die M3 is vir verkeer gesluit en voertuie is na die N2 herlei. Ook is paaie soos Woolsack- en Princess Ann-rylaan gesluit.

Hierdie sluitings was teen Sondagaand nog van krag.

Die nooddienste het alle bergstappers van vroeg af versoek om van die berg af te kom en voertuie in die omliggende parkeerterreine moes verwyder word.

Charlotte Powell, woordvoerder van die metro se rampbestuursafdeling, het Sondag om 17:00 gesê die brand is steeds buite beheer. Sy sê sy kan bevestig dat skade aan verskeie eiendomme aangerig is, maar hul fokus was gister op die brand en om dit te blus.

Sy sê daar sal in ’n latere stadium meer inligting oor die skade verskaf kan word.

Inwoners in die omgewing is teen laat Sondagaand nie gevra om hul huise te ontruim nie en lede van die branddienste sal, indien dit nodig is, van deur tot deur gaan om inwoners daaroor in te lig.

Willemien Brümmer, joernalis en ’n inwoner van Rhodes-rylaan, sê sy en haar gesin het die oggend reeds hul huis ontruim.

Haar man is intussen terug om te gaan kyk wat aangaan en met sy aankoms het brandweerlede die hek afgebreek om ’n deel van die dak wat vlamgevat het te blus.

Verder op in Rhodes-rylaan het benewens Mostert se Meul ook die ampswoning daar langsaan afgebrand. Die huis behoort aan die departement van arbeid, maar na wat verneem word, was niemand tydens die brand tuis nie.

Elijah Moholola, woordvoerder van die UK, het bevestig hulle het al die studente in die omliggende koshuise verwyder en na ’n veilige ligging geneem. Hy het nie gesê hoeveel studente uit die koshuise verwyder is nie.

Teen Sondagaand is bevestig dat die HM Pearson-, Fuller- en Jagger-biblioteekgebou in die brand beskadig is.

Meer as 150 brandbestryders was ook nog op die toneel, sê Carelse.

Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier, het Sondagaand in ’n verklaring gesê geen klasse, tutoriale, werk in laboratoriums of toetse sal Maandag of Dinsdag plaasvind nie. Die hele kampus word gesluit en slegs noodpersoneel sal toegelaat word.

Moholola het bevestig dat die hele kampus gesluit sal wees.

Phakeng het ook gesê kos- en noodverblyf is vir alle studente gereël wat geraak is.

Foto’s van die biblioteek en ander geboue is wyd versprei waarin ’n mens vlamme by die geboue kan sien uitkom.

Organisasies soos Gift of the Givers het hulp aangebied en het Sondagaand kos vir ongeveer 4 000 studente voorberei. Gift of the Givers gaan nog maaltye voorsien wat vanuit Old Mutual se kantore in Pinelands na studente versprei sal word, nadat Old Mutual ’n perseel hiervoor beskikbaar gestel het.

Luidens ’n verklaring van Gift of the Givers het die UK hulle gevra om hulp te verleen vir die duur van die week terwyl die universiteit alternatiewe behuising probeer kry. Ondernemings soos Pick ’n Pay, Woolworths en Engen het ook aangebied om hulp te verleen, luidens die verklaring.

Die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging is ook op die brandtoneel om vas te stel of enige diere hulp benodig, maar hulle kan eers die gebied binnegaan wanneer dit veilig is.

Teen 20:00 Sondagaand het nog ’n brand teen Duiwelspiek gewoed wat suksesvol geblus is, het Prins bevestig.

  • Powell het die publiek gevra om enige skenkings vir brandbestryders, soos water, energiedrankies en -stafies en oogdruppels, by die brandweerstasie in Roelandstraat in die middestad af te laai. Skenkings vir studente kan by Old Mutual se kampus by Jan Smuts-rylaan 91 in Pinelands afgelewer word. Die perseel sal vandag vanaf 06:00 tot 23:00 oop wees.
Meer oor:  Hulp  |  Kaapstad-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.