Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Kerse vir helde wat in brand omkom

’n Jong pa van 28 was een van die drie brandbestryders wat die hoogste prys betaal het vir die veiligheid van digby ’n 100 amptenare van die Gautengse regering.

Simphiwe Moropane se vrou het oor haar verlies getwiet en hom as haar beste vriend bestempel.

Moropane se kollega van die Fairview-brandweerstasie Khathutshelo Muedi (37) is ook in die brand dood. Die derde brandbestryder, Mduduzi Ndlovu (40) was verbonde aan die Sentraal-brandweerstasie.

'n Brandweerbeampte stap verby drie kerse en drie brandhelms by die Fairview-brandweerstasie waar familielede van die gevalle brandbestryders deur die brandweer se kapelaandienste vertroos is. Foto: Simon Sonnekus

Een van die bestryders het hom Woensdagoggend vanaf die 16de verdieping doodgeval. Twee ander is dood aan rookinaseming toe hulle in die brand vasgekeer is.

’n Gebrek aan waterdruk op die 23ste en 24ste verdiepings, waar die brand uitgebreek het, het die proses gekniehalter en ’n handvol brandbestryders is Woensdagmiddag in die gebou vasgekeer. Agt van hulle moes daarna mediese behandeling kry, waarvan twee selfs in die waakeenheid behandel is.

Familielede, asook David Makhura, premier van Gauteng, Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, en Michael Sun, die stad se burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het Donderdag by die Fairview-brandweerstasie kerse vir die drie afgestorwe bestryders langs drie brandhelms aangesteek.

David Makhura, premier van Gauteng, ondersteun een van die slagoffers se geliefdes. Foto: Simon Sonnekus

Kyk ook:Die helde van Pixley Seme-straat

Terwyl die families deur die kapelaansdiens van die brandweer vertroos is, is versterkings vanaf die Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s ingeroep. Naburige geboue is ontruim.

Die brand het Donderdag weer opgevlam nadat dit Woensdag sowat 9 ure aktief op die 23ste en 24ste verdiepings bestry is.

Volgens Nana Radebe, EMS-woordvoerder, het die vlamme van die 23ste verdieping via die hysbakskag na die 21ste, 16de en toe 10de verdiepings versprei. Mashaba het om 18:30 gesê bestryders was ook besig om vlamme op die 14de en 15de verdiepings hok te slaan.

Brandbestryders word met ’n hyskraan gelig om by die brand uit te kom. Foto: werner beukes

Stukkies glas en ander puin het gedurende die dag verdiepings ver na die grond geval. Die gebied is deur die polisie en Johannesburgse metropolisie afgesper en omstanders is gewaarsku hulle moet terugbeweeg, omdat die area onveilig is. Naburige geboue is ontruim.

Die brand het in die kantore van die Gautengse gesondheidsdepartement se regsdienste uitgebreek.

Brandbestryders het vroegaand nog soveel moontlik kartondose en papiere uit die brandsone verwyder.

Een brandweerman van Tshwane se nooddienste het aan Netwerk24 gesê: “Die probleem is dat daar nie brandslange in die gebou is nie. Die water moet van die grond af na die 16de verdieping gepomp word.”

Altesaam sewe brandweerwaens, drie hyskrane en 50 brandbestryders was Donderdag op die toneel. Twee Oryx-helikopters van die Suid-Afrikaanse lugmag het oor die gebou gesirkel en is op bystand om waterbomme op die gebou los te laat indien nodig.

By navraag oor of die gebou dalk ineen kan stort, het Radebe gesê nie in dié stadium nie, “die vuur is nie op elke verdieping nie. Dit slaan verdiepings oor omdat dit deur die hysbakskag versprei.”

Volgens Radebe is daar tans 14 werkende brandweerwaens in Johannesburg, wat 29 brandweerstasies het.

  • Die betrokke staatsgebou huisves onder meer die departemente van gesondheid, behuising, en samewerkende regering en tradisionele sake.
Meer oor:  Johannesburg  |  Brandbestryders  |  Jhb-Brand  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.