Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Knysna-brandskade: R4 mjd-eise volg dalk

’n Verslag oor die historiese brand wat in Junie 2017 meer as 700 huise en ander strukture in Knysna verwoes het, kan die sluise van litigasie ooptrek teen die munisipaliteit, wat versuim het om te keer dat die eerste vlamme versprei.

Miljarde rande se skade is gely in die Knysna-brand. Foto: DEON RAATH

Agt mense het in die brande in Knysna en omstreke omgekom, waaronder drie inwoners van Elandskraal wes van Knysna – Tony Johnston, sy swanger vrou, Madré, en hul seuntjie, Michael.

Volgens die verslag van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se Meraka-instituut het ’n weerligstraal Elandskraal reeds op 22 Maart 2017 getref en ’n ondergrondse brand veroorsaak. Dit is deur data van die Suid-Afrikaanse Weerdiens bevestig.

Die WNNR het selfs by die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, en die Europese ruimte-agentskap, ESA, vir satellietfoto’s aangeklop, wat bevestig het dat die weerligstraal in Maart ’n brand veroorsaak het wat vir maande gesmeul het totdat dit op 7 Junie deur sterk noordwestewinde aangewaai is na die dorp.

Volgens dr. Wallace Vosloo, Eskom-ingenieur en ook ’n inwoner van Elandskraal, is die smeulende bos aan die brandweer gewys.

Reuse-eise kan kom ná skok-verslag oor Knyna-brand.

Dié bos vertoon as ’n bruin kol op foto’s wat met hommeltuie geneem is. Vosloo het aan Rapport gesê brandweerlede het opgedaag, op sy dak geklim en is met ’n “ag moenie worry nie”-houding daar weg.

Die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow het ook destyds die brande namens die burgerregte-organisasie AfriForum ondersoek en ’n verslag daaroor saamgestel, wat bevind het die oorsaak van die brande was die weerligstraal wat die bos 20 km buite Knysna in Maart getref het.

Sy bevindings is destyds summier verwerp deur Clinton Manuel, destydse brandweerhoof van Knysna, wat volgehou het die brande het in Junie begin weens ’n “ondeurdagte vuurtjie deur ’n rondloper”.

“Die bevindinge van die WNNR-verslag begrawe mnr. Manuel se verslag as onjuis,” sê Klatzow.

“Dit is geen verrassing nie. Mnr. Manuel is ’n brandweerman met geen kwalifikasies om ’n brandondersoek te doen nie, wat een van die moeilikste elemente van die forensiese wetenskap is.”

Dié bos in Elandskraal het maande lank gesmeul voor die Knysna-brand. Foto: WALLACE VOSLOO

Klatzow het aan Rapport gesê hy reken die skade kan tot R4 miljard beloop.

Jean du Plessis van Morajane Prokureurs in Pretoria, wat die Knysna-munisipaliteit en die Eden-distriksmunisipaliteit namens 12 inwoners van Elandskraal vir R21 miljoen dagvaar, het reeds die munisipaliteite op 17 Desember verlede jaar kennis gegee dat hy gaan litigeer omdat hulle versuim het om hul wetlike plig te doen om ’n brand te blus.

Volgens Du Plessis is hulle al lank in gesprek met die versekeraar van die munisipaliteit.

“Ons het ooreengekom dat ons vir die WNNR se verslag gaan wag voordat ons die gesprekke vorentoe vat.”

Du Plessis se saak berus op die bepalings van die Wet op Brandweerdienste (Wet 99 van 1987).

Die inwoners namens wie hy optree, beweer ook dat Elandskraal se gemeenskap die brandweer in April in kennis gestel het van ’n brand in die bosse, maar dat hulle nie opgetree het nie.

Reint Dykema van AfriForum sê dié organisasie vra nou dat die Knysna-munisipaliteit hom amptelik distansieer van die “Clinton Manuel”-verslag met spesifieke verwysing na die foutiewe aanduiding van die ligging en die oorsaak van die Elandskraalbrand.

Ook dat die munisipaliteit ’n interne ondersoek van stapel stuur na hoekom die Knysna- en Sedgefield-brandweer verkies het om die smeulende Elandskraal-brand te “ignoreer.”

Manuel het intussen as brandweerhoof van Knysna bedank en is opgevolg deur Wayne Sterns-dorf, dieselfde persoon wat glo deur inwoners van Elandskraal na die smeulende bos ontbied is.

Manuel het gister aan Rapport gesê die WNNR-verslag is “slegs ’n weergawe van wat moontlik kon gebeur het”.

Sternsdorf wou nie kommentaar lewer nie.

Knysna se kommunikasiebestuurder, Christopher Bezuidenhout, wou slegs sê dat hulle nog geen amptelike kommunikasie vanaf die WNNR ontvang het nie.

Meer oor:  Knysna-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.