Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Ons was besig om na die gebou te kyk - Makhura
Hierdie berig word bygewerk soos wat die nuus ontvou.



19:06

Maichael Sun: "Ons is hartgebroke. Ons lede het nie vir niks gesterf nie, hulle het baie mense gered. Vier brandbestryders is uit hospitaal ontslaan, twee nog is in die waaksaal. Pixe ka Seme-straat is Donderdag vir verkeer gesluit.


19:04

Makhura: Ons wil verseker dat al ons personeel veilig is en was in die proses om  aandag te tee oor kommer oor veiligheid van hierdie gebou.


19:01

Die premier van Gauteng,David Makhura, sê verskeie geboue insluitend die Bank of Lisbon-gebou is as gevaarlik geïdentifiseer en hulle het verlede week eers die nuutste verslag daaoor ontvang.

Sewe ander geboue is geïdentifiseer en Makhura het besluit om personeel wat daar werk tydelik te hervestig. Die identifisering van onveilige geboue is 'n jaarlikse proses. Makhura gaan die provinsiale tesourie vir hulp nader.


18:54

Alhoewel die brand onder beheer gebring is en heeltemal geblus is op die 23ste vloer, was dit omstreeks 18:45 nog nie heeltemal geblus nie.


18:39

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het op die toneel aangekom.


18:23

Nehawu sê hulle het aan drie verskillende LUR'e geskryf om hul kommer uit te spreek, maar is geïgnoreer. Hierdie is die derde brand by die betrokke gebou in 2018.

Die toneel vroeg Woensdagaand.


17:26: Brand onder beheer

Die brand is nou onder beheer gebring. Altesaam vyf brandspanne sal elke halfuur roteer om die laaste vlamme op die 23ste verdieping te blus.


 

17:19: Almal gered

Al die brandbestryders wat vroeër in die brandende gebou vasgekeer is, is gered. Maar intussen spook die res nog om die vlamme te blus.

Michael Sun bevestig daar is geen brandbestryders of burgerlikes in die gebou nie. Die enigste mense binne is die brandweermanne wat die vlamme probeer blus.

Die dodetal staan steeds op drie.


 

17:13: Die gebou brand nou al vir 7 ure

Die gebou brand steeds. Foto: Werner Beukes
Die brandende gebou is na 7 ure steeds nie geblus nie. Foto: Werner Beukes


 

17:12: Werkers kla al vir maande oor toestande

eNCA berig personeel kla al sedert 2014 oor die haglike omstandighede by die betrokke gebou en verskeie werkswinkelvoormanne het as gevolg daarvan hul werk verloor. eNCA was Vrydag daar om oor die toestande te berig.

Die vakbond Nehawu beplan nou om 'n klag by die Johannesburg polisie in te dien.

Jack Bloom, DA-woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, bevestig die gerugte deur die personeel. "Ek het navrae oor die toestand van die gebou aan die Gautengse departement van infrastruktuur gerig, maar wag nou nog vir 'n reaksie. Die personeel se kommer oor veiligheid in die gebou moes al aandag geniet het."


 

16:40

'n Noodwerker op een van die boonste vloere van die gebou. Foto: Simon Sonnekus


 

16:32: Waterdruk te laag toe brandbestryders brand probeer blus

Waterdruk wat te laag was het die brandbestryders se poging om 'n brand in die gebou van die gesondheidsdepartement te blus, in die wiele gery, het die Johannesburgse metro in 'n verklaring bekend gemaak.

Noodbeamptes is op die toneel. Foto: Simon Sonnekus

Drie brandbestryders is dood en agt ander word behandel vir beserings, brandwonde en uitputting. Twee ander lede wat in die brand vasgekeer is, moet nog gered word.

13 mense wat in die gebou gewerk het, word vir rookinaseming behandel.

Die metro het sy meegevoel uitgespreek oor die “drie dapper brandbestryders” wat dood is terwyl hulle die brand probeer bestry het. “Die pogings om die vlamme te blus, is gekniehalter deur ‘n gebrek aan voldoende waterdruk, ‘n belangrike veiligheidsmaatreël in so ‘n groot gebou. Daar is berig dat verskeie amptenare wat uit die gebou is, verwys het na die onveilige toestand van die gebou,” lui die verklaring.

Die gebou word glo deur die departement van infrastruktuur besit. 

Herman Mashaba, burgemeester van die stad, sal na verwagting Donderdag die families van die slagoffers besoek.

“Ons brandbestryders in Johannesburg word gereeld deur lewensbedreigende situasies in die gesig gestaar. Tog gaan hulle dapper voort om ons inwoners veilig te hou,” sê Mashaba in die verklaring.

“Ek doen ‘n beroep op premier David Makhura om die omstandighede wat na die brand gelei het, te ondersoek. Dit het uiteindelik die lewens van drie van Johannesburg se dapperstes gekos. As ‘n regering moet ons die standaard stel waaraan eienaars van geboue in Johannesburg moet voldoen,” aldus Mashaba.


16:09

Michael Sun, burgemeesterslid vir openbare veiligheid, sê hy gaan nêrens voor die vlamme nie geblus is nie. Foto: Judith Silomo

 


 

16:03: Nog twee moet gered word

Michael Sun, burgemeesterslid van openbare veiligheid vir die Johannesburg-metroraad, sê hulle wag steeds vir twee lyke van brandbestryders. Die eerste een is dood toe hy 23 verdiepings ver geval het terwyl hy besig was om die brand te bestry.

Twee brandbestryders moet nog gered word.

'n Brandbestryder word uit die brandende gebou gered. Foto: Judith Silomo

  


15:44: Gebou in ligte laaie

Die gebou staan Woensdagmiddag in ligte laaie. Foto: Simon Sonnekus

Die Bank of Lisbon-gebou het opgegaan in ligte laaie met groot vlamme wat uit die boonste vensters lek.

Drie brandbestryders is reeds dood en twee moet nog gered word nadat hulle saam met nog twee kollegas vroeër in die brand vasgekeer is.

Die oorsaak van die brand wat al sedert Woensdagoggend in die hoogste verdiepings van die gebou van die Gautengse gesondheidsdepartement in die middestad van Johannesburg woed, is nog onbekend.

Volgens Nana Radebe, EMS-woordvoerder, het die brandweer pas weer aktief begin om die vlamme hok te slaan. 'n Sterk wind het vroeër opgesteek, wat dit onmoontlik gemaak het vir die polisiehelikopter om sy reddingstaak deur te voer.

Lede van EMS moes noodgedwonge in die brandende gebou ingaan om hul kollegas te red.

Volgens Radebe is daar tans 15 lede van die EMS in die gebou. Twee spanne van vyf bestry die brand, terwyl die laaste span van vyf op 'n reddingstog is.


 


15:36: Infrastruktuur onvoldoende

Jacob Mamabolo, LUR vir infrastruktuur in Gauteng, het pas aan die media bevestig drie lede van die brandweer is dood in hul poging om 'n brand in die gebou van die departement van gesondheid in die Johannesburgse middestad te blus. 

Een brandbestryder het vroeër van die 23ste verdieping geval.

Intussen wag vier om gered te word.

Ander veg nog onverpoosd teen die vlamme op die boonste verdiepings.

Mamabolo het verder gesê 13 personeellede van die gesondheidsdepartement word in die hospitaal behandel vir meestal rookinaseming.

Volgens die LUR het sy departement op 27 Augustus 'n verslag bekom wat 8 staatsgeboue geëvalueer het.

Die Bank of Lisbon-gebou van die gesondheidsdepartement wat aan die brand geraak het, het glo nie voldoen aan die minimum veiligheidsmaatreëls wat in Suid-Afrika geld nie.

Die gebou se nakoming van regulasies was maar 21%, teenoor 85% wat die minimum volgens bouregulasies is.

Hou Netwerk24 vir die jongste verwikkelinge.


 

Drie brandbestryders is dood in die brandende gebou in die Johannesburge middestad, terwyl vier brandbestryders wat vasgekeer is, wag om gered te word.

So sê Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid in die Johannesburg-metro, wat net ná 14:00 steeds op die toneel in Sauerstraat in die middestad was.

Jacob Mamabolo, LUR vir infrastruktuur in Gauteng, het bevestig drie lede van die brandweer is dood. Hy het verder gesê 'n verslag wat sy departement verlede week bekom het, sê die gebou wat aan die brand geraak het, het nie voldoen aan die nodige veiligheidsmaatreëls nie.

Die brandende gebou van die departement van gesondheid Woensdag in die middestad van Johannesburg.
Die gebou in die middestad van Johannesburg wat brand.
’n Polisiehelikopter red ’n persoon, vermoedelik ’n brandweerman, uit die brandende gebou.

Die brandbestryders word gered nadat ’n kollega van hulle dood is toe hy die oggend 23 verdiepings geval het. Die slagoffer se naam word weerhou omdat sy familie nog nie in kennis gestel is nie.

Nana Radebe, woordvoerder van die EMS-nooddienste, het aan eNCA gesê hul toestand is kritiek, maar stabiel.

Sy sê EMS het solank van hul eie personeel by die gebou ingestuur om die vasgekeerde brandbestryders op die negende verdieping te gaan haal omdat die wind te sterk is vir die reddingshelikopter.

“Ons het spanne opgestuur. Ons probeer hulle nou self uitkry.”

Sy het benadruk dat alle lede van EMS veilig is.

“Op die grond het ons mense gevra om weg van die gebou af te beweeg, want daar is glas wat val (soos wat die gebou se vensters bars). Dit is nog nie veilig nie.”

Oor die getal personeellede van die departement van gesondheid wat in die gebou was toe die brand uitgebreek het, sê Radebe EMS werk aan ’n lys van almal wat na verskillende hospitale gebring is vir skok of rookinaseming.

Volgens Sun sal EMS eers ’n finale opname van hul eie personeellede kan doen wanneer al die lede veilig op die grond is.

Sun het bevestig dat lede van die brandweer op die 24ste verdieping steeds voortgaan om die brand te probeer blus.

Die wind het aansienlik sterker geraak, wat groter rookwolke oor die middestad stuur, maar Sun sê dit lyk nie asof die brand vererger nie.

Dis steeds onbekend wat die brand veroorsaak het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.