Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Betogers brand gebou in Ottosdal af

Betogers het Woensdagoggend die munisipale gebou in Ottosdal, Noordwes, afgebrand terwyl feitlik geen dienste meer hier of in die omliggende dorpe gelewer word nie.

Die vandale is ontevrede oor die gebrek aan dienslewering en soek werk, het kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Honderde betogers het vroegoggend al paaie in die omgewing versper en die polisie is ontplooi.

Ondernemings en skole in Ottosdal het Woensdagoggend hul deure gesluit, terwyl inwoners die golf van betogers probeer keer het deur strate in die dorp af te sper en die dorp te patrolleer, sê Linda Taljaard, DA-raadslid in die gebied.

“Die munisipale kantoor is grootliks daarmee heen. Die brandweer se kantoor is afgebrand. Toerusting, ’n trekker asook ’n nuwe vulliswa wat ’n onderneming geskenk het, is aan die brand gesteek. Daar word gevrees vir die ouetehuis wat net agter die munisipale kantoor is.”

Die munisipale kantore in Ottosdal, Noordwes, Woensdagoggend nadat betogers dit aan die brand gesteek het.

Dienslewering het in duie gestort terwyl amptenare van die munisipale kantore in Ottosdal, Delareyville en Sannieshof weier om te werk omdat hulle nog nie hul Junie-salarisse ontvang het nie.

Die Tswaing-munisipaliteit wat die gebied bedien, is bankrot en is in Mei vanjaar onder administrasie geplaas. Dineo Thapelo, woordvoerder vir Noordwes se departement van plaaslike regering, het Maandag gesê dis nie seker wanneer die amptenare en die raadslede betaal gaan word nie omdat die munisipaliteit nie op die oomblik geld vir salarisse het nie. “Ons werk aan ’n oplossing.”

Soret Cloete-Viljoen, nog ’n DA-raadslid in Tswaing, het Woensdagoggend gesê die munisipale kantore in Delareyville is die afgelope week geplunder.

“Alles is blykbaar stukkend. Houtbanke is flenters gebreek en papiere is uitgegooi. Vanoggend het sowat ses werkers buite die kantore op stoele gesit.”

Betogers het Woensdag ook ’n stoor en munisipale voertuig aan die brand gesteek.

Cloete-Viljoen sê oor Sannieshof, waar die rioolvuil nog uit septiese tenks gesuig moet word, hang ’n ondraaglike stank omdat die dreine oorloop. “Die vragmotors wat die rioolvuil moet uitsuig, loop nie omdat niemand werk nie. Mense loop deur die onverwerkte rioolvuil om by die Spar en die bank te kom. Die rioolvuil lok rotte en is nou ’n plaag omdat vullis net sporadies verwyder word.”

Taljaard en Cloete-Viljoen werk nog albei om gemeenskappe by te staan, al word hulle nie betaal nie.

“Ek het gister mense in Ottosdal probeer help met hul elektrisiteitstoevoer wat afgesny was, al was ek in Hoedspruit (Limpopo) vir ’n vergadering,” het Taljaard gesê.

" 'n Eenheidsbestuurder in Ottosdal het my bloot na die tegniese afdeling verwys, waar iemand wel kom help het. Ek probeer dit onder ontevredenes tuisbring dat dit nie help hulle val ondernemings en die publiek aan nie, want dis nog die laaste mense wat die ekonomie aan die gang hou en vir hulle werk skep. Niemand gaan meer hier wil belê as dit so gaan nie, en dan sal dit nóg slegter gaan.”

Meer oor:  Ottosdal  |  Noordwes  |  Dienslewering  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.