Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Brandbestryder dra bokkie ‘soos eie kind’ uit brand

Die brandbestryder wat ’n grysbok tydens die brande in Bettysbaai gered het, sê dit het gevoel asof hy sy “eie kind” vir kilometers gedra het om behandeling te kry.

Tasswin Lewis van die Kaapse Wynland-brandweer is Dinsdag vir die redding van die bokkie Bambi vereer, wat tans in Somerset-Wes aansterk.

Hy is saam met die paramedici Wardi de Wet en Riaz Arendse, asook Sydville May, ’n beampte van CapeNature, deur die Country Animal Clinic vereer.

“Ek het voor die span op die brandlyn geloop en iets hoor skree. Toe loop ek al in die rigting van die geluid en kom ek hom af,” vertel Lewis.

“Hy het probeer weghardloop, maar sy bene is gebrand en ek het tot by hom gegaan en hom opgetel. Dit het gevoel asof dit my eie kind is, want ek is baie lief vir diere en het baie by my huis.”

Riaz Arendse, ’n paramedikus, en Tasswin Lewis, die brandbestryder wat die bokkie by Bettysbaai gered het. Foto: Adrian de Kock

Lewis sê hy het die bokkie in die reën oor twee koppe tot by gelyke grond gedra. Hy het Bambi sowat 7 km ver gedra en het toe reeds 3 km oor die berg geloop.

“Ons hom tot in ’n ambulans geneem en ’n bietjie warm gemaak. Toe kon jy ’n groot verskil sien en hy het ’n bietjie beter geword.”

Volgens Lewis sou hy nie die aand kon slaap as hy nie die bokkie gaan red en saamgeneem het nie.

“Dit sou my nagmerries gee. Ek kon hom los omdat dit hard gereën het ook, maar ek het gevoel ek moet dit doen.”

Bambi is op 11 Januarie na die Country Animal Clinic in Somerset-Wes geneem.

Tasswin Lewis, brandbestryder van die Kaapse Wynland, in ’n ambulans van ER24 saam met die grysbok wat hy uit die veldbrand in Bettysbaai gered het.Foto: ER24

Dr. Adri Rossouw was die volgende oggend aan diens en het toe reeds ’n foto van die “spesiale pasiënt” ontvang wat oornag opgeneem is.

“In daardie stadium het almal reeds na hom as Bambi verwys, want hy lyk net soos sy baie bekende rolprent-eweknie.

Bambi sterk nou aan by Rossouw se huis, waar hy glo ’n klomp ander diere as geselskap het.

“My seun was ook verskriklik opgewonde oor die klein bokkie en het gesê hy kan van sy medisyne kry om gesond te raak. Bambi het self besluit hy slaap onder ons televisie, in ’n holtetjie by die kaggel waar hy ’n nessie geskop het.”

Volgens Rossouw lê die bokkie nog die meeste van die tyd omdat sy pote nog seer is.

“Hy is regtig ’n vegtertjie en is veral lief om wingerdblare te vreet.”

Die bokkie het brandwonde aan sy gesig en hoewe opgedoen en is deur paramedici van ER24 in hul voertuig gelaai om na die Country Aninmal Clinic te neem.

Die grysbokkie Bambi vreet ’n wingerdblaar nadat hy vroeër vandeesmaand uit die veldbrand in Bettysbaai gered is.
Meer oor:  Bettysbaai  |  Brandbestryders  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.