Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Brande eis 100 000 ha in VS; honderde diere vrek

Minstens 100 000 ha weiding is reeds verwoes en honderde stuks wild en beeste het doodgebrand in die verwoestende veldbrande wat sedert Sondag in die Wes-Vrystaat woed.

Volgens Vrystaat Landbou het 100 000 ha sedert die naweek in die distrikte Hertzogville, Boshof, Dealesville en Bultfontein afgebrand.

Verskroeide veld, wild wat alle rigtings in vlug en verwarde skilpaaie op die grondpad was Dinsdag in Boshof te sien toe vlamme weer in die hitte en die wind opgevlam het.

Dié verwoestende veldbrand het Maandagmiddag in die Boshof-omgewing ontstaan. Die oorsaak is onbekend.

’n Springbok vlug oor die swart geskroeide aarde buite Boshof in die Vrystaat nadat die vlamme van ’n reuse-veldbrand weer hier opvlam het. Minstens 100 000 ha tussen Hertzogville, Boshof en Bultfontein is afgebrand. Van die brande het ontstaan toe betogers die naweek buite Hertzogville bande gebrand het. Foto: Mlungisi Louw

By die Makhulu Game Lodge, ’n wildplaas buite die dorp, is 7 000 ha van die 10 000 ha vernietig. Die vlamme het Dinsdagmiddag weer opgevlam op die plaas met sy 88 wildspesies.

Die wildplaas was volgens Boeta de Waal, brandoffisier in die Boshof-distrik, in die middelpunt van erge brande wat naby Warrenton in die Noord-Kaap ontstaan het.

Henk Vorster, die eienaar, sê die leeus het oorleef omdat die vure om hul kampe betyds geblus is, maar hy kan nog nie sê hoeveel van sy ander wild gevrek het nie.

“Ek kla nie, ek is dankbaar. Van my bure het honderd persent (van hul weiding) verloor.”

Die brand hier is een van talle in die Wes-Vrystaat, waarvan die grootste die een in die Hertzogville-distrik is wat glo ontstaan het toe betogers buite dié dorp bande aan die brand gesteek het.

Op talle plase moes honderde beeste en skape geskiet word omdat hulle te erg beseer is.

Vorster sê die Boshof-brand het by die N12-pad, 30 km van sy plaas, ontstaan.

“Ons het hom daar begin baklei. Die wind was oorspronklik in die Boshof-rigting, toe draai hy reguit hier na ons.”

Boere probeer Dinsdagoggend die vlamme van ’n weghol-veldbrand keer wat oor groot dele van die Wes-Vrystaat woed. Verskeie brande het minstens 100 000 ha weiding tussen Boshof, Hertzogville en Bultfontein verwoes. Foto: Mlungisi Louw

Terwyl hy gepraat het, het die wind opgesteek en die smeulende miskoeke het weer opgevlam, wat ’n reuse-operasie ontketen het met talle brandbestryders met bakkies wat die vure probeer blus.

Vorster sê hy verstaan die vuur kon ontstaan het deur treine wat ’n vonk veroorsaak, of dit kon die gevolg wees van ’n menslike fout. “Niemand sal weet nie.

“Vir ons in die toerismebedryf is dit ’n nekslag, want watter toerisme kry jy nou met hierdie tonele?”

Hy sê dit het ook ander, groot geldelike implikasies, want daar is nie genoeg kos vir die diere nie.

“Daarby was dit Covid-19, net voor die bek-en-klouseer.”

Met goeie reën sal die veld weer ná drie jaar soos voorheen lyk, “as ons gelukkig is”.

• Geldelike bydraes kan gemaak word aan Vrystaat Landbou se rampfonds by: Vrystaat Landbou ABSA rekeningnommer: 470940670

Verwysing: RAMP en dan jou naam

• Stuur ’n e-pos na elize@vslandbou.co.za as jy kan help met voer of brandstofskenkings.

Meer oor:  Vrystaat Landbou  |  Wildplaas  |  Hertzogville  |  Bultfontein  |  Dealesville  |  Boshof  |  Veldbrande  |  Brande  |  Vrystaat-Brande  |  Veldbrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.